Wiskunde, monsters en seks …

Die lammers skreeutel soos een skaap,“Têên, twêêênteee, thêêrtee, fôôrtee, fieftee, siextee, sewêêêêntee…”

Die herder steek ‘n afwerende hand op en sê vies, “Sewêêêêntee? Nee my maggies, wat vir ‘n gogga is dit?”

Sewe en dertig paar rollende ogies kyk verward na haar.

“Say séventy…”

“Yêês Mêêêm!!!”

Die skapies doen Wiskunde. Dis doodstil. Die herder kyk tevrede na haar troppie. Sy het weereens vir hulle vreeslik lief geword.

“Mêêêm!!! He hietit me on maai spaainil kôrd!”

Spinal chord nogal. Bid jou dit aan!

“Né?” sê die herder hoogs geamuseerd, maar sy hou haar gesig reguit.

“EMANNUEL! Come here!” bulder die herder.

Emmanuel met die heilige naam en die onheilige gedrag.

“Why did you do it?” raas die herder.

“Iet was a mistyk! I did it baai êksident!” sê hy pure botterbek.

Die herder weet dit is uiters onopvoedkundig, maar hier werk die boendoehof die beste.

“Show me exactly what he did, Tendani?” sê die herder.

Tendani haak af en gee die mannetjie ‘n snotklap.

“KADWAAA!”weergalm dit deur die klas.

“Iejôôôô,” blêr die res van die kudde met iets tussen skok en bewondering.

Die stilte daal weer neer vir so vyf minute, tot…

“Mêêêm! Thando and Thando wrout sêêêx on a pyyyper!”

Die herder wip soos sy skrik!

Nie een van die twee Thando’s kan spel nie, maar wraggies dié een ken hulle.

Die lammers sluk amper hulle skaaptongetjies in van pure afgryse vir die skokkende woord.

“EISH! IEJÔÔH EN SOMMER NOG JONAH WȆ ook!”

Die herder verduidelik geduldig dat die nie ‘n “ugleee”  woord is nie, maar ‘n woord bedoel vir volwasse getroude mense.

“Yêês Mêêêm!!!” blêr die wolbende en giggel onderlangs.

Nou toe doen julle werk, sê die herder moedeloos.

Iemand hamer aan die deur.Juffrou D sleep vir Xola aan sy nekvelle by die herder se klas in. Hy het ‘n lelike monster geteken en geskryf: This is Mam. Juffrou D is boos vir die klein belhamel. Hy lyk verskrik, want hy weet die herder vat nie nonsens van klein rammetjies nie.

xola

Xola erken hy het die prent geteken, maar hy het nie die woorde geskryf nie. Thandeka het. Die herder laat roep die meisietjie.

“Hie fôôrced me to do iet, Mêêêm!!!” blêr sy.

Ag jimmelkie tog! Hulle luister nie vir hulle herder nie, maar hulle luister vir mekaar! Die herder roskam albei deeglik en hulle loop skoorvoetend klastoe.

Lethabo kom staan teen die herder. Hy knop ‘n geselsie aan.

“Mêêêm, everybody thinks becôth maai thurname ith Zulu that I can thpeak Zulu,” lispel hy tog te oulik. Sy moedertaal is Sotho.

Die herder glimlag. So het elke lam sy eie persoonlikheid, agtergrond en probleme. Al raas die herder hoe met die spulletjie sorg sy dat daar weer vrede gemaak word. Hulle moet weet sy is lief vir een en elkeen van hulle.

Partykeer is hierdie skapies pure engeltjies!
Partykeer is hierdie skapies pure engeltjies!

8 thoughts on “Wiskunde, monsters en seks …

Leave a reply to Thys Cancel reply