Humor red die herder menigte dag

‘’Fôrgiewe us our trespaasis as whie forgiew thouzz who trespaas agênst us,’’ bid die botterbekkies. Moet egter nie vir een oomblik geflous wees nie. Daar vind baie onderstrominge onder gebed plaas. Wraak word met oorgawe geneem. Die sondes van ‘n medelammer word tot in die duisendste geslag toegereken en vergeld.

Skaars het hulle “Ymen” met oorgawe geskreeu of die klagtes stroom in… “Mêêêêm!!!!”
Mêêêêm vervies haar op haar nugtermaag en bulder, “Sittttt! All of you!” Goeie genugtig! Maggiestraat en sommer dêmmit ook! Die lammers skrik hulle wolle koud en gaan sit soos een skaap. Nou kan die dag in aller erns begin.

Daar was die laaste tyd elke dag toesigskapies. Van die herders skryf eksamen en ander is siek. Dis nogal moeilik om met 55 gewoldes vasgekeer te sit in ‘n klaskamer gebou vir 25. Nietemin, waar daar ‘n wil is, is ‘n weg and the show must go on. Baie skape in een kraal laat die spul nou eers klik.  Dit “Mêêêêm” dat die Mêêêêm skoon naar vir hulle is.

Kathle is by Herder M ingedeel.Hy raak lelik moedswillig met haar en skeur die werk op wat sy hulle gee om te doen. Herder M kom bekla haar lot by my. Die ram word ingeroep en hy moet ‘n verskoningsbrief skryf.

sorry mam

Intussen gaan die werk aan. Die kudde skryf sinne dat die rook by hulle oortjies uitkom. Die herder raak vir ‘n oomblik verdiep in haar gedagtes.

“Mêêêêm” skril Mpumi, “Ratladi wrote sex on his pyyper!”  Die herder wip soos sy skrik en bulder, “ Bring that paper here!”

“Iejôôôh,” blêr die geskokte klasmaats en kyk met afwagtende ogies na die herder. Nou is Ratladi  dêêd meat en dit moet hulle sien. Hulle hou van bloed en derms.

Die herder stel egter teleur deur te vra, “Is sex a bad thing?”

“Yêêêês Mêêêêm,” kom die geskokte reaksie … Jona wê, eish en haibô.Die wit omgedopte oë kyk hulle herder verwytend aan. Het hulle juffrou nou mal geword?

Hulle kry die PREEK…” Sex is a beautiful thing meant for married grownups. You are too young to talk about sex.”

‘“ Yêêêês Mêêêêm!” en met dié is die onderwerp afgehandel.

Die dogtertjies speel in wagtyd met hulle Barbiepoppe. Mbali het besluit dat Barbie se agterstewe heeltemal te klein en plat is. Die pop se boudjies word met lap opgestop dat sy soos ‘n wipgatmier lyk. Barbie hop ewe gedweë rond met ‘n aangeplakte gryns op die gesig. Die herder onderdruk haar lag met bitter groot moeite.

Herder N het haarself die plig opgelê om die res van die herders te bekeer voor dit dalkies te laat is. Oggend vir oggend moet die res van die herders die geprekery deurworstel en verduur. Die res van die herders is wat haar betref pylreguit oppad na die “peeet of hell” toe.

“Wat  en waar is hierdie piet of hel?” vra buurvrou iesegrimmig.

“Sy bedoel die pit of hell,” lag ek,”as die saints ingemarch kom, wil sy jou gevreetjie ook tussen die engeltjies sien…” Ons bars uit van die lag.

Dank Vader vir humor. Dit maak dat ons te midde van ‘n geween en ‘n gekners van tande nie al ons varkies verloor nie.

optimistic sheep

9 thoughts on “Humor red die herder menigte dag

  1. Ek hou van die Barbie wat opgestop word. Dis darem baie skapies in jou kraaltjie! Kry jy ooit iets gedoen? Vir hoe lank kyk julle na so baie?

    Liked by 1 person

  2. So snaaks en eg menslik!
    Ja wat, sonder humor kan ‘n herder nie … veral as die onderwerpe ‘n mate van sensitiwiteit benodig 😉

    Like

  3. Dis so waar! As mens jou ‘slegte’ ervaringe deel kom dit ergs naaks oor. PS. Ek lag nog harder wanneer my kollegas soortgelyke rampe beleef, maar daai ‘sorrie-briefies’ (min in ‘n hoërskool) laat altyd ‘n mens se hart warm klop!

    Like

Leave a comment