“Ies hie dêêêd, Mêêêm?”

Ter agtergrond: Ek hou in Johannesburg skool by ‘n skool met die naam Danie Theron Primary. Dit was eers ‘n Afrikaanse skool vandaar die naam. Danie Theron was ‘n verkenner in die Anglo- Boere oorlog. Op ‘n dag besluit die herder om vir die lammers die geskiedenis van hierdie held te vertel.  Sy bly by die feite,maar sy lieg ‘n paar versinsels by vir beter effek. Die les begin…

“Children I want to tell you about a very, very brave man. His name was Danie Theron.”

“Ies hie dêêêd, Mêêêm?”

“Yes,he died long ago!”

“Danie Theron was born on 9 May 1872 in Tulbach in the Western Cape.”

“How old ies hie now, Mêêêm?” Rexwell, slaapkousie van formaat.

“Haibô, Mêêêm ôlrêdie sêd hie ies dêed. Sharrap now mên, Mêêêm ies traaieng toe tell us a stôree!”

“Guys, Danie was a good boy,

He always did his homework… ( bewonderende sugte styg op)

He never swore anybody’s mothers…( hulle vloek mekaar se ma’s onder die rokke in.)

He never threw any papers on the ground…” (dié spulletjie is regte morsvarkies)

So vertel die herder al aandikkende tot sy by die oorloggedeelte kom.

“Then the English people wanted our country,”vereenvoudig sy die geskiedenis en sy trek haar oë groot.

“Iejôôôôh…”en die ogies dop wit om. Sulke blienkieng Engelse. ‘n Paar lyk egter bekommerd.

Die herder gaan ongesteurd voort,“By English people I mean the people of England, not English speaking people. We are the Boere, what are we?” vra sy stout.

“Boooeeerrre!” blêr die lammers en lyk in erg in hulle noppies met hulle nuwe status. Van die ramme skiet wild en wakker met denkbeeldige gewere onder die vyand. Die herder wag geduldig dat die trop eers bedaar voor sy entoesiasties voortgaan.

Sy vertel hoe die oorlog verloop het en hoe tragies Danie gesneuwel het. Die ramme is dadelik boos en die van die ooitjies se ogies skiet vol trane.

Toe vra Sapho die jackpot vraag,”Ies hie dêêêd, Mêêêm?”

“Yêêêês!!!!” skreeu die Boereskapies soos een man,“Aaar joe stjoepit or what?”

Die herder keer met moeite ‘n derde wêreldoorlog voor sy die boeke begin uitdeel.

The teacha told us an uuuugggleeee storee today, Mommy!
The teacha told us an uuuugggleeee storee today, Mommy!

SOMMER NET VIR SOMMER- ‘N LAAT KRISMISVERHAAL

Dis ‘n snikhete Novemberaand en met Kersfees om die draai, is dit weereens daardie tyd van die jaar. Bianca en Portia se senuwees is behoorlik flenters geskawe! Elke jaar as die Graad R maatjies die Kersverhaal moet opvoer, draai die twee juffroutjies digby ‘n senuwee ineenstorting om. Hierdie jaar se maatjies is boonop besonder onhebbelik .

Na maande se deeglike beplanning, voorbereiding en bloedsweet, breek die groot aand uiteindelik aan. Dit is ‘n deurmekaar gewoel, gehardloop en gewerskaf van Mammas en klein mensies uitgedos in Bybelse gewade. Histeriese maatjies soek vir oulaas na kopbande en lakens, terwyl die mammas troos en kalm planmaak..

Diegene wat nie karakters in die kerstoneel speel nie, is uitgedos in pragtige serene blou en wit koor-togatjies en spierwit vlerkies. Botter kan nie in die engelbekkies smelt nie. Josef en Maria word hierdie jaar deur die skattige Jantjies-tweeling vertolk en die herbergier deur die ondeunde klein Salmon. Laasgenoemde is gekies omdat hy ‘n bulderstem het.

Met die mammas se hulp is almal uiteindelik uitgedos, gegrimeer en vir oulaas geroskam en die leviete voorgelees. Die koor neem hulle plekke in op die koorbankies.

Bianca lees die Jesusverhaal met ‘n gewyde stem voor terwyl die opgewonde kleintjies vervaard hul posisies op die verhoog inneem. Die koortjie raak rusteloos en begin aan mekaar stamp en stoot. Die stemmetjies word al hoe harder.

“Sjarrap,” sis juffrou Bianca. Toe lees sy in ‘n stroopsoet stem: “En die engel sê,’ Moenie bang wees nie……”

Die swaar gordyn gaan stadig oop. Engel Gabriël, alias Kiara, staan  met wiegende uitgespreide vlerke gevaarlik naby ‘n brandende kers.Die vuilgevatte veervlerke dreig- dreig al om te skroei. Die gehoor hou benoud asem op.

“Staan vorentoe, Kiara,” sis juffrou Portia in ‘n fluister-stem, Gabriël, is horende doof. Sy het net oë vir haar familie wat in die voorste ry hul sitplekke ingeneem het. Eers na die derde waarskuwing taamlik hard en kwaai gefluister word, gehoorsaam sy onwillig.Skuifel-skuifel,beweeg sy stram met stywe bene en vlerke wat punt in die wind staan.

Maria sit op ‘n stoel .Sy swaai haar bene lustig heen en weer, heen en weer, die bruin ogies soekende deur die gehoor. Skielik gewaar sy haar pappa agter die videokamera.  Die gesiggie helder op en die handjie waai entoesiasties in sy rigting. In die agtergrond staan Gabriël  steeds soos ‘n standbeeld. Die vere  begin haar reeds sensitiewe neusie irriteer. Sy gee ‘n  paar verwoede niese en sleep ‘n vlerk grimmig deur die kruipende slakspoortjies  terwyl die gordyn stadig toegaan.

Met die oopgaan van die gordyn skreeu-sing die engelekoor “Herders oppie ooooope velde” Die herders is gedrapeer in lakens en dra handdoeke met bande om die koppe. Drie van hulle dra trots lewendige lammetjies in die arms. Die ander herders se monde is motorband-dik opgeblaas omdat hulle lammerloos is.

Die loopneus engel verskyn aan hulle. Een lammer blêr weemoedig en begin verwoed spartel om los te kom. “Lê stil vylgoet!” dreig die benoude haasbekkie in ‘n harde fluister-stem terwyl die gordyn genadiglik weer toe gaan. Die laggende gehoor klap entoesiasties hande en ‘n paar van die ouer broers fluit uitbundig deur hulle tande.

Toneel drie breek aan. In die krip lê ‘n vernielde mangopithaarpop gereed. ‘n Geringe verbetering op die slapende babahondjie van die vorige jaar.

Josef sleep ‘n swanger Maria teen ‘n voortsnellende tempo van Nasaret na Betlehem. Haar voetjies raak net hier en daar grond.  “Nie tho vinnig nie, Jothef,” protesteer die stomme Maria huilerig . Josef is egter ‘n man met ‘n misie en hy weet waarheen hy mik.

In ‘n japtrap is hulle by die herberg. Josef hamer met mag en mening aan die herberg se deur. Kadoef, doef, DOEFFFF, weergalm dit deur die skoolsaal!!! Die herbergier is egter besig om ‘n lastige muskietbyt op sy jeukende boud te krap en hy is horende doof!

“Maak oop!” fluister Portia dringend, “Maak oop Salmon!” Die knapie se boudkrappery grens nou al aan ongeskik wees. “ Dit jikkk verthkriklik, Jiffrou,” kla hy.

Intussen breek Josef amper die deur af met sy vuisies.” Maak die blienkieng deur nou oop,Salmon!” bulder hy vererg. Hierdie keer word die deur amper uit sy skanier gepluk. Die herbergier lig sy rok onverwags op en wys sy boudjies minagtend vir die verbaasde egpaar. ”What a show!” skreeu een van die tienerboeties ongeskik en gee ‘n deurdringende fluit.

“Salmon Vermeulen, laat sak jou rok!” gil Portia op die rand van histerie.Wat op dees aarde maak ‘n mens met so ‘n sedelose rammetjie? Gelukkig is hy volgende jaar die Graad een juffrou se probleem.

Salmon ruk homself  blitsig reg en nooi joviaal:” Kom binne, ek dink daar is nog plek in my geraats, aaag ek bedoel stal, man! Kom in, dan skink ek vir julle ‘n lekker dop en ons braai sommer ‘n tjop ook!” Juffrou Portia dop haar oë moedeloos om terwyl Bianca  ongesteurd voortlees. Niks gaan haar vanaand haar aandag aftrek nie.

Die egpaartjie gaan in. ‘n Keelvol Josef plak Maria sonder enige verdere seremonie op ‘n stoel neer. Die swanger vrou gluur haar man moorddadig aan met ‘n  wag-tot-ons-by-die-huis-kom-dan-sal-jy-‘n-ding-sien, kyk in die ogies!

Op maat van gewyde musiek kom drie wyse manne vaak-vaak ingeskuifel.Hulle sit netjies toegedraaide geskenke voor ‘n meerkatnuuskierige Maria se voete neer. Sy is nou die ene aandag en sit kiertsregop met blink, bruin ogies. Die gesiggie plooi in ‘n breë glimlag. Sy kyk tevrede na die grootste geskenk. Sy is doodseker dit is die slaappop wat sy so lankal begeer!

Maria glip stadig van die stoel af en probeer ongemerk met die lint peuter. Josef is egter nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en ook hy is soos blits op die grond. Die armpie trek terug. “Kadwaaa!” weergalm die klap wat ‘n niksvermoedende Maria op die rug tref.

“Eina, dêmmit,” gil Maria, “Ek gaan vir Mamma en Pappa thê! Jeefrou Porthiejaaa! Kyk wat doen Jothef!” Sy mik betraand om hom ‘n wraakskop te gee, maar weereens sis Portia ‘n waarskuwing. Die wraak moet wag tot by die huis.

Die egpaartjie gaan sit onwillig. Maria se betraande ogies is nog steeds begerig vasgenael op die blink geskenke. Die einde van die aand breek uiteindelik aan.

Terwyl die gordyn toegaan, sing die koortjie met botterbekkies in die bloedige hitte: “Aaaaim, drieeemieng ôwwa whaait Kriesmôs!”  Die twee juffrouens en hulle klassies word staande toegejuig. Nog nooit het ‘n gehoor ‘n konsert so geniet nie.

“Ek is nou so gedaan,” sê Bianca vir Portia, “Ek stiek jou vir ‘n  laaang brandewyndrip in die siekekamer.

Portia lag uit haar maag uit.” Ek’s in,” sê sy,” Ek’s definitief in!”

NATIVITY 2

‘n Heildronk op ouers met gestremde kinders

My sus en swaer, Louette en Riaan Visser,se eersteling word op 28 Maart 1989 gebore. Dis ‘n pragtige seuntjie. Hulle noem hom Christiaan. Dis die derde kleinseun in die familie en almal is saam met hulle dankbaar.

Christiaan ontwikkel normaal tot op 18 maande. Op twee jaar stamp meneertjie telkens sy kop teen die hoeke van kaste dat hy later soos ‘n eenhoringtrolletjie lyk. Ons skryf dit toe aan die normale tweejarige vloermoere. Ons kom egter mettertyd agter dat hy nie met speelgoed speel of vormpies in hulle plekkies wil indruk nie.

Op driejarige ouderdom kom die verpletterende diagnose. Christiaan ly aan ‘n genetiese toestand genaamd SOTOS SINDROOM.( http://ghr.nlm.nih.gov/condition/sotos-syndrome) Boonop toon hy nog sterk tekens van outisme ook. Hoewel ons vemoed het iets is verkeerd, is dit nogtans ‘n enorme skok om te verwerk. Christiaan sal vir die res van sy lewe ‘n klein seuntjie in ‘n man se liggaam vasgevang wees. Sy geliefde speelding is ‘n lang rugbykous wat hy om en om swaai.

Ten spyte van die jong verstandsouderdom, verbaas hy ons telkens met baie dinge. Op ‘n baie jong ouderdom kry hy reg om die ingewikkeldste hekke oop te maak. So raak die mannetjie weg terwyl hulle by Oupa en Ouma in Potchefstroom kuier. Sy mamma kry hom op sy driewiel in een van die besigste strate, met ‘n hele arsenaal  moeë beskermengele kort op sy hakke.

Soos wat die mannetjie ouer word, verskaf hy ons baie pret. Hy word ons troetelkind,ons liefie Kietman, ons eie papegaaitjie,want hy herhaal alles wat mens sê. Hy het ‘n uitstekende geheue en kan op die onmoontlikste oomblikke ‘n gewraakte woord of frase uitbulder.

Tipies outisties met die fladderende handjie
Tipies outisties met die fladderende handjie

Sus- hulle kuier by Oupa in die versorgingsoord. Kietman sit op die vloer in ‘n hoek,op sy eie stasie met sy kous. Die suster kom in.

“Hallo Christiaan”, en sy vryf oor sy hare.

“Jy mag nie bliksem sê nie. Sies dis lelik,lelik!” kom die onverwagte antwoord en die kous swaai om en om. Die suster lag maar net goedig. Sy weet van Kieta.

Tipies Kieta, op sy eie stasie, kous in die hand
Tipies Kieta, op sy eie stasie,                                  kous in die hand

Met Pa se dood vind ons dit moeilik om vir die mannetjie te verduidelik hoekom hy nie meer vir Oupa sien nie. Sy ma vind spoedig ‘n manier. “Oupa het gebreek, Hy kan nie weer reggemaak word nie.” Uiteindelik verstaan hy en kom hy tot ruste. Hy weet van breek en regmaak.

Vra mens hom sy naam, antwoord hy, “Christiaan Burger en Tjips Visser!” Eet is sy stokperdjie en van ‘n burger en chips hou hy vreeslik baie.

Om so ‘n kind groot te maak, verg baie spesiale ouers. Hy moet nog steeds gebad word, anders sit hy net in die water. Hy kan darem self aan- en uittrek. Mense moet ook onthou dat hy geen inhibisies het nie en dit vir hom om’t ewe is of hy klere aan het aldan nie. Kos moet weggesteek word, anders sal hy nooit ophou eet nie.

Bedags bly hy by Emily, die swart engel wat hom “Boetie” noem en hom grensloos bederf. Sy jonger sussie Helené is net so geduldig met haar boeta. Modelkind, hierdie sussakie wat twee jaar na hom gebore is.

Riaan, Louette en Helené, here’s to you!!! God het julle met versigtige vingers uitgekies om Sy spesiale kindjie se ouers en suster te wees!

Die Visser gesin
Die Visser gesin

Haal af daai rooskleurige bril en kyk om jou!

Toe ek in Oktobermaand ‘n emosionele laagtepunt bereik, kom ‘n man genaamd Kevin Mostert  op ‘n vreemde manier oor my pad. Kevin se siekte en dapperheid ruk my uit my “comfort sone”  en ek raak bewus van ‘n wêreld totaal buite my verwysingsraamwerk. So klim Kevin en sy familie mettertyd pens en pootjies in my hart en ek raak betrokke by hulle.

Hoekom dapper? Kevin het fase 4 nierversaking en moet dringend ‘n nieroorplanting kry anders sal hy sterf. Hy gaan twee keer ‘n week vir dialise by die Uniehospitaal,Dit beteken dat hy vir vier ure so stil as moontlik aan masjiene gekoppel  moet lê. Ek kan my net indink hoe lank moet daardie vier ure voel as jy niks het om jouself mee besig te hou nie.

Daar gaan ook baie opofferinge gepaard met hierdie toestand. Daar moet ‘n spesiale dieet gevolg word. Eens geliefkoosde kosse moet skielik vermy word  Die plekke waar die pype aan sy bors gekoppel word, moet steriel en droog gehou word en talle ander klein jakkalsies waarvan ek  as leek nie bewus was nie.

Ten spyte van al hierdie ontwrigtinge leef hy sover moontlik ‘n vol lewe Hy nog steeds skool by ‘n laerskool in Alberton as Wiskunde onderwyser. Rika, sy vrou, is ‘n Graad een onderwyseres. Sy bak elke middag na skool ” brownies” vir ekstra fondse. Natuurlik raak die gesin soms moedeloos, maar hulle geloof in God hou hulle stewig geanker.

Terwyl ek daar kuier,kom ek toenemend agter,hoe geliefd hierdie twee mense is. ‘n Kollega van Kevin bied aan om ‘n nier te skenk. Die toetse bevestig dat sy ‘n geskikte skenker is. Leerlinge en oud- leerlinge gee donasies en daar word verskeie fondsinsamelings gereël, want die bybetaling op so ‘n operasie beloop oor ‘n R100 000.Voorts moet hy ook die skenker se operasie betaal.

Kevin, ek salueer jou en Rika! Julle dapperheid, blymoedigheid en passie vir die lewe, raak my diep. Dit is ‘n inspirasie vir my en sekerlik vir baie ander ook!

Mense, ons neem ons gesondheid as vanselfsprekend aan. Ek moes eers tot stilstand geruk word om weer my gesondheid te waardeer. Haal af daai rooskleurige bril en kyk om jou.,, Jy kan ‘n verskil maak. Al is dit net aan een persoon se lewe!

“Bravery is a complicated thing to describe. You can’t say it’s three feet long and two feet wide and that it weighs four hundred pounds or that it’s colored bright blue or that it sounds like a piano or that it smells like roses. It’s a quality, not a thing.”— Mickey Mantle The Quality of Courage

Kevin Mostert
                      Kevin Mostert

Hierdie blog is opgedra aan Kevin en Rika Mostert.

Every day, every minute, every breath truly is a gift from God.

‘n Vinnige terugblik op 2014

Die jaar 2014 was ‘n baie onstuimige jaar, Die jaar begin soos enige ander jaar, Nuwe lammers moet getem word en na die herder se hand geleer word. Die normale sleur van die eerste kwartaal gaan soos gewoonlik aan.

Ons Bloemfonteindogtertjie, Jorina, kry vroeg in die jaar haar BTH( Teologie)  graad. Jorina is oudste seun se meisie en het  met haar nommer drievoetjies diep in haar amperma en – pa se harte ingekruip.

Ons is Bloemfontein toe vir die plegtigheid en het die oomblik met groot trots gedeel. Jorina is tans besig met haar MTH graad en doen volgende jaar haar gemeentejaar
Ons is Bloemfontein toe vir die plegtigheid en het die oomblik met groot trots gedeel. Jorina is tans besig met haar MTH graad en doen volgende jaar haar gemeentejaar
Aprilvakansie is ons na ons geliefde plek, Reebok, naby Mosselbaai. Manlief verras my met 'n oorslaap in Nieu Bethesda. Ek kan die uilhuis van Helen Martin gaan besoek. Ek tel vir kollega Naomi 'n handvol onthougruis op en koop vir haar 'n uiltjie by een van Koos Malgas se kinders.
Aprilvakansie is ons na ons geliefde plek, Reebok, naby Mosselbaai. Manlief verras my met ‘n oorslaap in Nieu Bethesda. Ek kan die uilhuis van Helen Martin gaan besoek. Ek tel vir kollega Naomi ‘n handvol onthougruis op en koop ook vir haar ‘n uiltjie by een van Koos Malgas se kinders.

Ons hou vir so tien dae vakansie, toe die oproep kom. Manlief se oudste broer (60) is kritiek in Milpark. Aneurisme in die brein. Ons pak op en val so een uur die middag in die pad. Half nege die aand kom ons op Bloemfontein aan. Hier gee Jorina se ouers vir ons ‘n veilige nessie vir die nag. Engelmense deur die Here oor ons pad gebring.

Vir die volgende tien dae ry ons amper elke dag Johannesburg toe ( so 60km) om ons skoonsus by te staan. Sommige dae ry ons eers Potchefstroom toe om my skoonouers te gaan oplaai. Die tweede Saterdag, kry ons die gevreesde nuus. Koos is breindood, maar ons moet eers 72 uur wag om doodseker te maak. Dinsdagoggend word die finale neurologiese toetse gedoen, Ons almal staan by terwyl die masjiene ontkoppel word. Die Redelinghuys familie is platgeslaan.

Maar God neem nie net nie, Hy gee ook, In Meimaand kry ons Jessiekind( jongste se meisie) haar BCOM Bedryfsielkundegraad by NWU - Vaalpukke. Weereens 'n baie trotse oomblik!
Maar God neem nie net nie, Hy gee ook, In Meimaand kry ons Jessiekind( jongste se meisie) haar BCOM Bedryfsielkundegraad by NWU – Vaalpukke. Weereens ‘n baie trotse oomblik wat ons met ons “aanneemdogtertjie” kan deel!
Pa word die Julievakansie siek en word in die hospitaal opgeneem.Ons moet die moeilikste besluit van ons lewe neem. Pa moet na 'n versorgingsoord geskuif word. Weg van sy geliefde radios. Hy was 'n radio- amateur met die roepsein ZS6ANW
Pa word die Julievakansie siek  tot so ‘n mate dat hy in die Klerksdorphospitaal opgeneem word.Ons moet een van die die moeilikste besluite van ons lewens neem. Pa moet na ‘n versorgingsoord geskuif word. Weg van sy geliefde radios. Hy was ‘n radio- amateur met die roepsein ZS6ANW Ons harte is seer, maar hy het intensiewe versorging nodig,

Van hier af gaan dit toenemend slegter en Pa word in Oktober in Eugene Marais hospitaal opgeneem, Sy toestand is uiters kritiek. Ek ry vir vyf weke elke naweek Pretoria toe, Op 11 November sterf Pa. Die Mayer ( my nooiensvan) – familie is hartseer- tevrede. Hoewel ons hom verskriklik sal mis,vier ons sy lewe. Hy was ‘n ongelooflike pa vir ons.

‘n Ruk na Pa se nuus kom Jongste een middag blinkoog by die huis aan. NWU Vaalpukke reserveer vir hom geld om met sy doktorsgraad aan te gaan. Hy word basies betaal om te studeer. Dit nadat hy die hele jaar nêrens ‘n internskap( Meesters- bedryfsielkunde) kon kry nie. Ons is dankbaar- opgewonde.

My oudste seun kry op 11 Desember sy Meestersgraad in Ou Testament by die Universiteit van die Vrystaat. Ons kry 'n kopie van die verhandeling. Onder sy erkennings staan onder een van die punte: "My parents for the unconditional support and love even if at times it seemed like an insane idea, that didn't make sense to anyone but me.It is true that you don't get to choose your family, but to me( in more sense than one) you are godsent.In more sense than one, I also owe to you my life." Die Here neem, maar Hy gee ook.
My oudste seun kry op 11 Desember sy Meestersgraad in Ou Testament by die Universiteit van die Vrystaat. Ons kry ‘n kopie van die verhandeling. Onder sy erkennings staan onder een van die punte: “My parents for the unconditional support and love even if at times it seemed like an insane idea, that didn’t make sense to anyone but me.It is true that you don’t get to choose your family, but to me( in more sense than one) you are godsent.In more sense than one, I also owe to you my life.”

Kan ‘n ouer trotser wees? Trots op sy prestasie? Ja, baie, maar my hart is warmer oor die mooi jong man wat hy geword het. ‘n Jong man met integriteit en standvastigheid.

CAROL EN JAN 2

Op 17 Desember was ek 31 jaar getroud. Jan Redelinghuys gee my vryheid om te vlieg, maar hy is altyd daar om my te vang as ek wil val. ( en glo my daar is baie valoomblikke) My engelman wat my aanvaar soos wat ek is.

Daar was stywe bulte in 2014, maar daar was genoeg gelykpad om weer krag te kry.

Ek kyk met nostalgie terug op die jaar 2014.

Hierdie blog dra ek op aan my man en vier kinders – my rede om te lewe. Ek is ontsettend lief vir julle!

In Pa se voetspore

Hierdie blog is opgedra aan – Dr. Joseph James Mayer, of “Pa” soos ons hom genoem het. Pa is gebore op 10 Desember 1935  en sterf net na 4 op 11 November 2014. ‘n Sagte reëntjie sak uit en maak alles nuut. Dog sal die gemis altyd bly,,,

Hoekom doktor? Pa Joe kry in 2001 sy doktorsgraad in geologie. Die tema: Die impak van die meteoriet op die Vredefortstruktuur. Sy webwerf sal nog vir ‘n ruk op die net wees,,,http://www.vredefortstructure.org/vrede01.htm

Pa en Ma het ons met stabiliteit, liefde en geloof opgevoed. Geen geld kan dit koop nie. Ons is vandag wat ons is deur ons ouers! God het ons meetsnoere op mooi plekke laat val.

Die afgelope naweek is ons familie na die Suikerbosnatuurreservaat om vir oulaas afskeid te neem asook van die as te gaan strooi. Ons het die roete begin stap. Pa het graag mense op hierdie roete uitgeneem om strukture uit te lig,

Die uittog begin...
Die uittog begin…
Oor bulte en baie klippe
Oor bulte en baie klippe

Die bestemming, die mispelboom. Pa was lief om by die mispelboom  te stop om van die vruggies te eet.

Hier het ons van pa se as gestrooi. Sy molekules kan vry in die plek sweef waarvoor hy so lief was.
Hier het ons van pa se as gestrooi. Sy molekules kan vry in die plek, waarvoor hy so lief was, sweef Natuurlik is ons bitter hartseer, maar ons sal vir altyd sy lewe vier, nie sy sterwe nie. Hy was ‘n ongelooflike pa vir ons,
Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en ons ken net ten dele…
Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en ons ken net ten dele… 

pa joe skilderyI see God against an infinite horizon-Joseph James Mayer 2014

LOGIESE DENKE IS RELATIEF

“Our Father who art eleven…” bid die botterbekkies,” for ewwah and ewaah, ymen”

“Mêêêm, Nqobile did not klous her eyes,” saai Bokang alias SABC 3 luidkeels uit. Die mannetjie sit mos die hele dag en fokus op ander se sondes.

“Haibôô, Bokang, how do joe know?” berispe Shihlovo, “Did joe peep?”

Wil ek ook mos weet, dink die herder by haarself.

Bokang kruip agter die maat voor hom weg. Vatso katvis! Uitgevang!

Die herder deel ‘n leesstuk uit. Die storie gaan oor ‘n ongehoorsame prinses wat een nag ongemerk uit die paleis gesluip het. Sy en haar perd is die woud in. Hier het haar been vasgehaak en die perd het haar afgegooi. Die perd hardloop terug paleis toe. Die volgende oggend kom die ouers agter dat sy weg is en begin dadelik soek.

Die “jackpot” vraag is, hoe gaan haar ouers weet waar om haar weer te kry. Die antwoord staan nie in die storie nie en toets logiese redenasie.

Dis herder het weer al haar energie en vernuf nodig om Mangope aan die werk te kry. Dié sit weer in ‘n onmoontlike posisie op sy stoel. Kekana kou aan ‘n afgestorwe potloodstompie en Jayson sit en rondkyk wie hy kan verkarring. Uiteindelik is al die lammers van die kudde op ‘n manier aan die werk.

Die papiere word na ‘n ruk ingeneem. Die herder kyk of almal hulle name opgeskryf het. Op die een papier staan “CLDEO”

Wie op aarde is dié, wil die herder gesteurd weet.

Die hand gaan op.

Nou wat de…vra die herder.

Hy reken ewe kalm dat dit tyd is vir ‘n naamsverandering. Hy is nou moeg vir die “aggleee nym” wat sy ouers hom gegee het.

Sitha het nie ‘n ding geskryf nie. Hoe het dit die herder se aandag ontglip? Op sy papier pryk ‘n meermin met ore so groot soos opskepskottels. Nee wraggies, soveel dae soveel dinge.

Die antwoorde op die vraag van die prinses,laat die herder lekker lag. Sy loer vinnig na die antwoorde.

Op die vraag, how did the parents know where to find their daughter kom oulike, kreatiewe en simpel antwoorde.

  • The horse told them … mmm welsprekende gedierte
  • I don’t know.
  • Yes… Yes wat? My aarde tog, ek drink sommer my badwater met ‘n strooitjie uit.
  • She phoned her parents… oukei?
  • With a GPS …   mmm, Ouers sleutel in, vind my dogter.
  • Search on Google Earth
  • Put it on Twitter ( Tweetah) soos hulle dit uitspreek.

Party het punte vir pure kreatiwiteit gekry.

Mooi gedink, ouens prys die herder.

Die skapies blom soos sonneblommetjies in die paradys van pure trots.

Ai die liewe onderbrekings!

‘n Eentonige ritmiese gelesery is‘n uitstekende slaappil vir enige moeë herder. Sy voel hoe haar oë swaarder word, toe…

“Mêêêm, Sihle ies not paying attenshuun!”

Die herder wip soos sy skrik! Sy het so lekker weggedommel. Ai!

“Haibô, joe aar laaaieng, Bokang!”  sis Sihle en sy gee Bokang ‘n vernietigende kyk.

“I’m not laaaieng,I êm siettieng,” sê hy rammetjie- uitnek. Moedswillige klein twak. Hy en Sihle het mekaar gedurig aan die kort hare beet, (Letterlik en figuurlik)

“Kiss and make up!” bulder die herder nog deur die slaap. Die ander skapies giggel geamuseerd. Dit wil hulle bitter graag sien! Bokang soen egter eerder ‘n pofadder en maak of hy nie hoor nie.

Haibô  stop mykieng Mêêêm, êngree,” vermaan Lungile,

‘n Tydelike vrede daal stadig neer en die kudde blêr- lees verder. Dit gaan vlot vir ‘n ruk, tot…

“Whaaa! Spaaidir! Iet ies a pôôizunous spaaider! Mêêêm!”

“Where?” blêr die skare en sit met hulle voete in die lug. Op die herder se iesegrimmige ondersoek, ontdek sy ‘n mikroskopiesklein kriekie.

“A spider has eight legs,” grom die herder, “How many legs do you see?”

Niemand wil die kans vat om te gaan tel nie. Die herder het mos klaar getel en hulle neem absoluut haar woord daarvoor.

Op hierdie noot, besluit die herder om alle leesaktiwiteite voorlopig te staak, Spelling is nou hulle voorland.

Rus en vrede vou soos ‘n welkome mantel om die herder se skouers. Sy kyk met sagte oë na haar kudde voor sy op die bord begin skryf.

Where ies that spaaider?
Where ies that spaaider?

TROTS MEVROU REDELINGHUYS

Vandag is ons huweliksherdenking. Ons is ‘n hele 31 jaar getroud. Ons is darem oor ons storm en drang jare soos ‘n vriend onlangs opgemerk het.

“Wat gaan julle vanaand doen?” wil Jessiekind blinkoog weet,

Ek haal my ou tergtroefkaart uit en sê onnutsig, “Die oom gaan my die hele nag met sy toga aan om die huis jaag. Sorg dat julle weg is vanaand!”

“Eeeuw! Too much info! Dit wil ek tog nie aanskou nie! ” kom die onthutste antwoord. Ek lag lekker.

“Geluk julle twee ou dinosaurs sê jongste op sy droë manier.

Op ‘n ernstiger noot…

Vandag, 31 jaar terug het ek mev Redelinghuys geword. Jy bring die mooiste musiek in my uit, jy is my vangnet, my minnaar, my beste vriend, my sekuriteit, my troos,my alles! Ek was nog nie een dag spyt oor ons huwelik nie! Ek is oneindig lief vir jou!

Manlief en Jessiekind
Manlief en Jessiekind

Ek het vir Manlief ‘n nuwe skootrekenaar as geskenk gekoop. Wie bied aan om die lessenaar reg te kom pak?

Jan 2

Ek sluit af met hierdie woorde,,,

All the world may turn to stone
The sun may sink into the sea
But there will still be only one love
In this world for me, for me
And if I’m without your love
I’ll surely fail in living everyday
Parrish & Toppano – Cello Lyrics