Ek is deur ‘n mengelmoestyd van emosies sowel as gebeure van verlede naweek af. Laas Vrydag het die familie aan Manlief se kant ‘n Peyper- Schutte reünie gehou. Ons het almal by die oord Eastco naby Magalliesburg bymekaar gekom. Party het gekamp en ander (soos ons) het in die chalets gebly.
Wat ‘n lekker kuier! Ek en die niggies het te heerlik geklets oor alles en nog wat! Jan kon vir ‘n naweek van al die gemeenteprobleme( waarvan daar vele is) vergeet en met sy neefs oor die ou dae se streke lag.
Die uwe het selfs haar lyf in ‘n swembad gewaag en selfs oorleef om die storie te vertel. Kan nie onthou wanneer laas ek geswem het nie.
Maandag is ek vir oulaas skooltoe, want ek is Dinsdag geopereer vir ‘n breuk. Dinsdag is ek met bewende broek hospitaal toe vir die prosedure.
‘n Mooie jonge man tot my afgryse saam met die chirurg ingeskrop. Gelukkig was ek so uit soos ‘n kers en weet van niks verder nie…
In die hospitaal leef mens in ‘n baie klein wêreldjie.Suksesse soos ‘n derm wat weer werk, word met groot blydskap gevier. Ek moes ‘n badkamer met ‘n swart man deel. Ek was aanvanklik baie vies omdat ek met ‘n man moes deel, maar kom mettertyd agter dat hy ‘n liewe, bedagsame mens is. Ons praat tot my verbasing Afrikaans met mekaar.
Ek bel vir kollega Naomi gister om te sê dat ek die voorbereiding en werkskaarte vir volgende week vir die skool per epos gestuur het.
Die gesprek van haar kant af loop as volg: “Hallo vriendin, hoe gaan dit? Keep quiet! Can’t you hear I am talking to teacher Carol! Lie on your arms. Haal af jou hand man,I don’t want to talk to you now! Ek wil met teacher Carol praat. Hoe voel jy vriendin? …”
Ek is seker dat elke bloedjie in haar klas Afrikaans redelik goed kan volg na ‘n jaar in haar klas. Veral die woorde, “ Kyk voor jou!” moet hulle defnitief verstaan.
Nietemin, ons is darem nou al amper ‘n week verder en ek is op die herstelpad. Ek sal binnekort weer skapiemanewales kan blog. Lekker week vir elkeen van julle!