Groen skapies… nie vir sensitiewe lesers nie!

Een van die dinge wat ‘n herder die meeste vrees, is dat ‘n skapie in haar klas naar word, of ‘n nommer twee ongeluk in die broek het. Veral as die herder die dag self ook so ‘n bietjie onder die weer voel.

Die skapies is vroegdag besig om honderde,tiene en ene somme te doen. Die herder roep die lammers om een – een vir haar te kom lees.

Skielik is daar ‘n beroering in die klas. Die herder kyk geïrriteerd op.‘n Grasgroen ooitjie staan met groot oë en bollende kieste voor haar. Die pootjies is geklem voor die bekkie.

“Runnnnn!!!” gil die herder paniekerig,maar dis te laat. Nomusa het ‘n fris boerekat geskiet. Gisteraand se ete lê uitgestal op die vloer. Daar het selfs ‘n bietjie op die stomme lesertjie se skoen gespat. Die herder voel ‘n mislike moedeloosheid in haar opstoot. Die lesertjie lyk self nie te vars nie.

“Mêêêêm, Nomusa wôôômitet,’’ klik SABC 3 oftewel Cassie- Lee onnodiglik. Die herder gee haar ‘n verwytende kyk!

Nou is al die skapies die ene belangstelling. Hulle rek hulle nekke meerkatnuuskierig om beter te sien. Een of twee staan selfs op om kwansuis potlode skerp te maak.

“What daz iet loek laaik?” wil een rammetjie so waar as wraggies weet.

“Ag liewe jimmelkie tog my kind,…”

Peesis of tjiekin, rice, pees and kêrrits,” gee Wanga wraaksugtige detail. Hulle wil mos weet. Hy sal hulle vertel…

“SIEEESSSSS!” gril die spulletjie en heelwat otterkies loer om te sien Wanga nie dalk lieg nie.

Alles gebeur in ‘n kwessie van ‘n minuut.

Die herder stuur Nomusa,’n maatjie en ‘n waslap badkamer toe om haarself te gaan skoonmaak. Daarna keer die herder ‘n hele emmer water op die spulletjie om. Dit doen die truuk redelik. ‘n Paar probeerslae later is die vloer skoon en die herder letterlik en figuurlik mislik. Sy syg flou op haar stoel neer. Nomusa se ouers word gebel om haar groot asseblief so gou as moontlik te kom haal.

Die skapies bespreek die opwindende gebeurtenis met geesdrif en bypassende gebare. Die herder staar hulle net getraumatiseerd aan.

Toe sy beter voel, steek sy die PREEK af. Hulle moet hulle pootjies afhardloop as hulle naarheid in Botswana voel aankom.

“Moenie vra nie, moenie huil nie… jy moet HÔÔLLLL dat jy so klein word.. Verstehen Sie, capiche, verstaan julle en do you understand?” predik sy.

“Yeeeesss Mêêêm,” blêr die wolskapies, “Kapeeeeesh!” Die bekkies lag breed.

Die middag keer die herder se sin vir humor geleidelik terug en sy lag alte lekker terwyl sy vir haar man die storie vertel.

smiling sheep1
        Kapeeesh!!!

Rakkers en rapporte en radelose herders

Oueraande so na ‘n rapport se gee kan nogal baie emosioneel  uitputtend wees…

Arme klein So en so sukkel sy malle jis af om met die eise van Graad drie te  ‘’cope’’. Mamma en Pappa So en So vergeet gerieflikheidshalwe hoe hulle op skool gesukkel het.

‘’Hie mast jast wêrk haarder Mêêêm.Joe mast piensh hiem ief he das not wêrk… laaik this,’’  Sy haak af en gee die herder ‘n vieslike draaiknyp aan die arm. So hittete of  die herder gee vir Moeder So en So ‘n snotklap, maar haar opvoeding skop gelukkig betyds in en sy beheer haarself met ysere wil.

Juffrou C loop al weke met ‘n rugpyn wat haar vreugde steel. Mamma X gee haar ‘n vet klap ter demonstrasie op die rug. KLAKS, en ‘n werwel spring terug. Weg is die rugpyn. Juffrou C soen amper vir Mamma X uit pure dankbaarheid. In hierdie geval was die demonstrasie van nut en waarde.

sheep readingMoeder R stry met die juffrou F. Haar kind kan lees. Hoe het hy dan nou ‘n 2 vir Engels huistaal. Juffrou F pluk ‘n leesboekie uit en maak dit op die eerste bladsy oop. ‘’ Read,’’ beveel sy. Die rammetjie klank die eerste woord,’’ c..ê..t… c..ê..t,’’ Sy oog vang die prent van die hond,’’dôg,’’ sê hy triomfanklik. Hy kry ‘n kopklap by sy ma as beloning. Nee, nou verstaan sy nie. Hy is dan so slim by die huis…

Twee van juf G se seuns het in ‘n koeldrankblikkie gepiepie en die ander seuns daarvan laat drink. Buurvrou noem hulle ergerlik die koeldrankpisters en sê hulle moet bitter dankbaar wees dat hulle nie in haar klas is nie… Hulle word vir ‘n paar dae geskors. Graad drie belhameltjies wat al sulke gemene goed kan doen.

Dit bly maar ‘n taai toffie om ‘n kind op ‘n menswaardige manier te straf. Ek laat hulle hulle spelwoorde of tafels uitskryf terwyl hulle ‘’ Time out’’ sit. Op dié manier leer hulle ten minste iets.

Klein M is die dag weer in een van haar moedswillige buie. Juffrou S laat haar mamma, wat ook daar skoolhou, kom. Die volgende oomblik storm moeder M die klas binne met ‘n liederlike plank geklem in haar hande. Voor juffrou S enigsens kan keer, gee sy die kind ‘n paar harde rapse op die agterstewe met die plank. KADWAA! KADWAA!KADWAA! weergalm dit.   Klein M skreeu soos ‘n maervark en die res van die lammers brabbel uiloog in Babelse tale oor die gruwelike gebeurtenis. Al woord wat juf S kan uitmaak is ‘’planka’’ terwyl die handjies met ontsag wys hoe dik die plank was. Juf S het self haar wind weggeskrik en besluit daar en dan om nooit weer vir Moeder te laat roep nie.

Soms laat ek hulle toe om die maatjie in eie munt terug te betaal soos die boendoehof. Kenners reken egter dis nie opvoedkundig korrek om dit te doen nie.

Regverdigheid speel ‘n groot rol in ‘n kind se lewe. Die onderwyser moet ten alle tye konsekwent optree. Dit is nie altyd so maklik nie.’n Onderwyser kan ‘n kind maak of breek…

‘n Jong man sê hierdie week vir my dat ek ‘n groot invloed op sy lewe gehad het deurdat ek ‘n positiewe opmerking op sy graad een rapport geskryf het. Nou praat ons van seker omtrent 20 jaar gelede. Hierdie woorde het my hart warm laat klop en terselftertyd  ook koue rillings laat kry.

Ons as onderwysers het ‘n baie bepalende rol in die koers wat ‘n kind se lewe inslaan. As elke kind net een onderwyser het wat in hom/ haar glo, kan dit ‘n groot verskil maak…

Deesdae se onnies het dit maar hotagter. Ons word oorweldig met papierwerk, kinders wat nie gereed vir die graad is nie en onmoontlike kurrikulums. Ten minste helfte van die kinders kom uit gebroke huise, ouers wat lang ure werk en en en…  Tog geniet ek my werk ten spyte van alles en sal my skapies vir niks verruil nie.

‘n Ou storie op ‘n nuwe noot…

“Ek hou niks van bidure nie,” sê die leraar se vrou vir haar beste vriendin Sarien, “Oom Teunsie en oom Sagrys is aljimmers in kompetisie om te kyk wie die langste bid. Die staande rekord is huidiglik twintig minute.”

Sarlien lag alte lekker.

“Jy lag nog. Jy moet dit beleef… hulle  bely ook nog mekaar se sondes so tussendeur. Dit vat Manlief amper ‘n maand om die vrede tussen man en vrou en die twee gesinne te herstel.“

“Kom ek vertel vir jou wat verlede jaar gebeur het…”

“Toe oom Teunsie en tant Gertruida die derde aand biduur toe stap is hulle oordentlik grompie vir mekaar. Swyend stap hulle die gewyde atmosfeer binne en die tante gaan sit soos ‘n winkelpop in die voorste gestoeltes. Haar oë kyk nie links of regs nie. Die lippies is styf toegerits. Sy is omgeklits vir almal om te sien…

Oom Teunsie is egter die hartlikheid vanself en gee sy bidopponent ‘n gemene handdruk. Gisteraand het oom Sagrys so lank gebid vir alles en almal, dat daar vir die res van die stomme aanbidders minder as niks oorgebly het om te sê nie. Vanaand gaan hy wat oom Teunsie is, die vloer met hom mors.

Na Manlief se ernstige preek is daar toe mos kortstondige geleentheid vir getuienis. OomTeunsie laat nie op hom wag nie. Hy vlieg soos ‘n skeefgeklapte springhaas op en laat waai dat die spoeg letterlik en figuurlik spat. Hy val homself skoon in die rede soos hy familie uitlê en tekere gaan. Met ‘n snik vertel hy van oom Josef wat mense so mooi tot bekering kon bid. Hy bly stil en krap verward sy kop.Of was dit nou oom Sagrys,vrekkins hy kan nou nie meer so lekker onthou nie? Met dié raak hy so verstrengel in sy eie familiegeskiedenis dat hy later nie meer herwaarts of derwaarts weet nie. Hy slaan sy oë eers hulpsoekend op na die spreekwoordelike berge en toe na sy stywerug vroutjie met ‘n ‘hoe was dit nou weer mammie?’ uitdrukking op die smekende gesig.

Hy strompel nog so ‘n keer of wat oor die spoedwalle,toe tante Gertruida hom hardhandig terugpluk op die stoel. Die stomme  oom Teunsie gaan sit sommer twee keer.

‘Sit Teunis jy ken nie die storie nie,’ sis sy vererg en blaas haar stywe wange nog meer op.”

“Nee! Wat gebeur toe?” en Sarina lê soos sy lag.

“Ek moes myself  met mening inhou om nie hard en banaal aan die lag te gaan nie, maar dis nog nie die einde van die sports nie, Vriendin…

In afwesigheid van die orrelis vra Manlief toe wraggieswaar vir tant Gertruida om tog maar die noot vir die laaste gesang in te sit. Tante Gertruida gooi daai noot so jimmelhoog in dat meeste van ons op ons stoele moet staan om by te kom. Die gemeente piep en skwiek en beur met moeite deur die eerste versie. Tot die Manlief sing so ‘n flinke falsetto dat sy kleintongetjie soos ‘n fietsklokkie tril.

Oom Martiens erg hom meteens bloediglik vir die spulletjie en bulder donderend, “Waar de duiwel dink jy hel jy nou heen, Vrou? Oeps,askies Dominies!”

“Wat sê jou man toe,” lag Sarina uit haar maag uit.

“Hy sê toe maar Amen op die spulletjie tot die volgende aand!”

“En jy?”

“Ek is soos blits by die deur uit om by die huis te gaan lag!”

* Hierdie storie is grotendeels fiktief.

Die Jeer is groooooot waar Siejonstop...
Die Jeer is groooooot waar Siejonstop…