Kry ‘n mens blou skapies?

Wanneer die herder in haar klas besig is, spits sy haar ore en verkneukel haar in haar buurvrouens se sêgoed. Tot juffrou D wat van Zimbabwe afkomstig is, gooi nou al so hier en daar al die Afrikaans tussen die Engels in.

“Take your pencil out of your ear, wêna! Sies man!” kom dit luid uit haar klas uit. Die herder glimlag vir die Afrikaans. Sy leer stadig, maar seker die Taal aan. Die eerste woord wat sy geken het, was “stout”

Die skapies kleur hulle prente in. Een van die ramme is weer bitterlik lui. Alles word voor die voet blou ingekleur. Die herder erg haar en vra hom of hy al ooit ‘n blou mens gesien het.

“Nooooooh, Mêêêm,” koor ‘n paar ander lammers sommer namens hom.

Smurfs are blue,” sê Ryleigh proesend. Lekker skerp!

Die skapies skryf sinne in hulle Afrikaanse boeke. Die tongetjies hang uit en die kloutjies werk fluks. Op hierdie stadium help die herder nog met die sinne. Alles gaan voor die wind tot…

“Maai page ies foel, what Must I do now…” weeklaag die rammetjie, “where mast aai raait now?”

“Haibo mêêên, aar joe stjoepit ôr what? Ghou toe a new page and write there!” sê sy buurman iesegrimmig. Die vingers maak wilde kringe om die ore om die toppunt van stjoepitgeid uit te beeld.

Na pouse kom die ooitjies gelykblêrend die klas in.Groot drama!

“Mêêêm, the dog baaitet Tiarah! Iet ies vêêrie seeriejis!”

Die herder skrik haarself yskoud. Sy skakel onmiddelik die kantoor van haar selfoon af. Nee, kom die versekering. Tiarah makeer nie veel nie. Sy het met die hond gespeel en die hond se pote het haar gekrap. Daar is geen bytplekke nie.

Buurvrou N is egter op die daad vies. Sy is ‘n hiperhigiëniese vrou.

“Wie se brak is dit?” vra sy

“Die faktotum s’n. Kan jy nie sien hulle lyk na mekaar nie?” terg die herder.

“You must never touch the dog! It is dirty! It never baths!” raas sy in die bondel.

Die werk gaan voort. Van die lammers is weer luidiertjies. Die herder is later radeloos en probeer sielkunde. Nee wat,julle moet maar loop trou en gaan werk, grom sy vir die luies. Dit werk soos ‘n bom. Die trouding is nie vir hulle nie.

Buurvrou N spook intussen in haar klas voort. Die herder spits haar ore om beter te hoor…

“Wie is Tshegofatso… put up your hand… Ag Vaderkie tog!” kom die desperate uitroep. Die herder bars so hard uit van die lag, dat die skapies haar verbaas aangaap.

Na skool vee ‘n paar flukse ramme die klas uit. Die herder sit diep in gedagte haar boeke en nasien.

“Whaaaaaaahhhh!” weergalm dit skielik deur die klas.

Die herder val amper van haar stoel af soos sy skrik. Lethabo het vir Sizwe “potshot” met die besem se steel raakgeslaan. Laasgenoemde huil dat sy mangels hande klap.

“Ag jittekie tog”, smeek die herder moeg, ” Sê groot asseblief net askies,”

Sôôôrreee maai Frênd, iet was a beeegg mistyk,” sê Lethabo. Die saak is beredder en die vrede daal weer geleidelik neer.

Die herder voel vandag ten spyte van alles baie selftevrede.Sy kan nou al elke skapie persoonlik by die naam roep.

I really feel blooooo today!
I  feel blooooo today!

Die wel en weemoed in die skaapkraal

Dit was ‘n tipiese Maandag in onse skaapkraal. Die lammers is altyd wilder as die wildtuin na ‘n naweek en moet van vooraf ingebreek word. Twee ooitjies is afwesig, maar die ramme is voltallig.

Mev. W  is verantwoordelik vir die voedingskema by die skool. ‘n Skapie gaan klok in, “ Mêêêm,Maai pêrents aar getting mêêrried next month and maai mâwwer sêês she does not hêve taaime to myke lunch fôôr mieee. Aai mast eat êt the feedieng scheme.”

Mev. W kan haar ore nie glo vir die vermetelheid van die ouers nie en raak net daar op die plek  totaal en al skuinsbefoeterd.

Intussen spook die herder in haar eie klas voort. Die lammers se ore is bottoe vir die Britse taal en die herder laat waai in Afrikaans…

“Sibusiso, sal jy asseblief so gaaf wees om op jou stoel te gaan sit?”

Sibusiso gaap sy Mêêêm met ‘n verwarde uitdrukking op sy ramgevreetjie aan. Hy draai om en loop na ‘n maatjie toe.

“DULA!!! (sitttt) on your chair en maak gou! Ek praat nie weer nie!”  roep die herder wanhopig uit en slaan haar oë op na Eikenhof se heuwels. Nou verstaan Sibusiso baie mooi en laat spaander vir sy sitplek. Eish, sy mêêêm ies ekstreeeemlie grampee vandag!

Lerato het vreeslik mooi gewerk en sy mag ‘n groot plakker kies wat die herder in haar Wiskundeboekie plak. Die trots blom op die gesiggie.

Dit is warm en die herder loop kaalvoet in die klas rond! Sy trek haastig weer die skoene aan om gou badkamer toe te loop en wonder skielik hoekom loop die skoene dan nie lekker vandag nie. Toe sy afkyk sien sy dat sy mooitjies die skoene verkeerdom aangetrek het!!! Red nou ‘n kudde met so ‘n verstrooide herder!

Net so voor twee kom daar ‘n ouer. Dit is Palesa se pappa. Hy en die mamma het ‘n verskriklike rusie gehad. Sy het die kinders gevat en is sak en pak Durban toe. Hy weet nie of hulle ooit weer terugkom nie. Sy antwoord ook nie die foon as hy bel nie.

Stomme kinders! As ons herders meer van hulle kon weet sou mens dalk genadiger gewees het. Paul Phiri se mamma is gister oorlede. Nou sal hy seker moet terug na sy pa toe. Dié woon in Zimbabwe. Die mamma wou dit juis ten alle koste verhoed. Ons hande is afgekap om hom te help.

Week 3 van die jaar het aangebreek. Môre is die tiende dag. Hierdie herder sien uit na ‘n lekker jaar saam met haar troppie.

The hêppie  couple
The hêppie couple

Nooit een vervelige oomblik in die skaapkraal nie!

“Mêêêêm, Mbali has lôôôts of cake,” klik ‘n rammetjie opgewonde toe die herder nog besig is om die trappe te bestyg. Die herder se eerste gedagte is dat sy seker weer ‘n mikroskopiesklein roomkoekie tussen 37 kinders sal moet deel en haar moed sak sommer summier, kadwaa, in haar skoene. Toe sy egter op die boonste verdieping kom, sien sy dat so drie van die ooitjies in pens en pootjies by ‘n Sparsak induik en kloutjiesvol koek in hulle bekkies prop. Die kiesies staan bol en die room blink op die tevrede gevreetjies.

Die Sparsak word meteens in die herder se hande geprop.

“Fôôr joe,Mêêêêm,” glimlag die engelbekkies gulhartig.

Mêêêêm bedank hulle baie beleefd en beloer die koek agterdogtig. Mens kan sien die handjies het diep gedolwe. Die kieme dans sommer openlik in die koek. Die herder sit die geskenk blitsig in ‘n sak om by die huis te gaan verduister.

Intussen is Buurvrou liederlik geïrriteerd met die geblêr in haar klas.

“Watse gemêêêmery is dit nou weer met julle vanoggend?” sê sy grompie,” Hou op kerm en gaan sit op julle stoele!”

Die lammers moet persoonlike vrae invul. Die stomme Shaun het nie ‘n idee wat om op sy papier in te vul nie. Die herder probeer help.

“How old are you Shaun?”

Hy hou twee vingers op.

“My mâwwer sêêês I êm…”

Hy kom nie verder as dit nie. Sjoe die kind is selfs swakker as wat die herder gedink het. Sy sal iets alternatiefs vir tyd en wyl met hom moet probeer.

Party van die wat kan, wil nie Die herder se oog vang skielik vir Katlego wat sowaar weer sit en niks doen nie.

“Are you rolling snotballs again, Katlego,” vra die herder iesegrimmig.

“Sieeeeeesssss,” gril die meisietjies in Afrikaans.

Katlego kry so skaam dat hy summier drie woorde skryf voordat die aandag maar weer dwaal. Sizwe skryf dat hy baie van “ bogs” hou. Die liewe bd verwarring tog. Hy sien darem dadelik die fout toe dit vir hom uitgewys word en lag te heerlik vir homself.  Oulike klein rammetjie.

I fienk I am a drown bog... brown dog?
I fienk I am a drown bog… brown dog?

So is amper nog ‘n week verby en die herder begin haar kudde so stadig aan ken. Daar is ‘n paar juweeltjies en ‘n paar wat nog getem moet word, maar dit wil lyk na ‘n positiewe 2015!

Die herder praat nou al glads Duits en Taljaans ook!

Dit lyk of Sophia regtig nog baie verveeld in die klas is. Sy was in Graad een en twee in Indië in die skool. Haar pa kom reël haar middagvervoer met die herder.

“It’s a fat guy,” sê die man met die wye tande in sy snaakse aksent, “his name is Fanny.” Hy druk ‘n papiertjie in my hand. Die naam staan daar: Fanie. Die herder onderdruk ‘n histeriese giggelbui. Die man sal tog nie die grap verstaan nie, dink sy.

Fanny the fat sheep
Fanny the fat sheep

Intussen hoor sy hoe haar buurherder met mening klasgee.

“Open your books… Take your hand out of your mouth!

Write the date … What is your hand still doing in your mouth… haal uit man!

Copy neatly and correctly…Why is your hand in your mouth?

Op latere navraag vertel sy hoendervleis dat die kind in sy tande gegrou het. Sy kan dit nie verdra as ‘n kind in sy mond of neus dolwe nie.

“Wees bly hy het nie eers in sy neus en toe in sy mond geprospekteer nie,” sê  die herder droog. Buurvrou kry rilling op rilling!

Na pouse word die reëls van die klas behandel. Daar is net vyf basiese reels, maar dit dek ‘n wye veld van oortredinge.

class rules

Later die dag doen die lammers Wiskunde. Die werk vir vandag is opbreek van getalle in tiene en ene. Die herder is tevrede. Dit lyk of die skapies die werk mooi verstaan. Haar oog vang vir Shaun. Dié sit ‘n toring en bou met sy uitveërs(,nogal twee) gom en sy liniaal. Die herder voel hoe haar bloeddruk ‘n stewige paar grade styg.

“Tla kwano!” (Kom hier) bulder die herder. Die mannetjie kom skoorvoetend aangekruie.

Herder Carol kyk gekok na die werk. Die rammetjie het nie ‘n benul van Graad twee wat nog te sê Graad drie  werk nie. Nog ‘n tipiese voorbeeld van ‘n kind wat deur die sisteem gefaal is. Hy is skynbaar getoets en daar is bevind hy moet na ‘n spesiale skool toe gaan, maar daar het nog niks verder as dit gebeur nie. Die stomme kind is op die ou einde net so verveeld soos Sophia, maar oor heeltemal die teenoorgestelde rede.

shaun's maths

“May I leave the bathroom,” vra Lethabo onverwags.

“Where do you want to leave the bathroom,” vra die herder tong in die kies en glimlag stout. Die antwoord is slegs ‘n verleë laggie.

Thando het nie al sy werk gedoen nie. “I didn’t feel like it,” kom die antwoord so ewe op die herder se grimmige vraag. Die herder slaan haar oge op na die heuwels en tel tot tien.

“Bona(kyk) in hierdie klas slaan ek die kertaar en jy dans,” sê sy ongrondwetlik, “verstehst du?” word die matriek Duits ook sommer ingespan,”now sit on your chair and do your work immediately, capiche?”

Nee hy capeesh maar al te goed, sê die rammetjie bleekgeskrik en voltooi sy werk in ‘n kits.

Huistoetyd het die rus en vrede oor die kudde neergedaal en herder en skaap is dankbaar vir ‘n welkome blaaskans.

Die eerste week van ‘n skooljaar maak die herders moeg!

Toe die herder by haar klas kom, staan Sophia, my Indiese ooitjie, se pappa  alreeds vir my en wag. Hy verduidelik vir my in sy moeilik verstaanbare aksent dat sy sê die Graad drie werk wat ons doen is te maklik. Sy het klaar deur al die departementele werkboeke gekyk en sy kan al die werk reeds doen. Hy versoek met dié dat sy na Graad 4 toe moet opgeskuif word. Ongelukkig kan hierdie versoek nie toegestaan word nie. Eerstens is sy nog maar agt jaar oud, tweedens bied ons Afrikaans tweede taal op ‘n redelik gevorderde basis aan en derdens dis nie ‘n besluit wat ek mag neem nie.Ongelukkig is daar nie geld vir ‘n privaatskool nie, want ek vermoed dis waar sy eintlik hoort.

Na ons gebid het, begin ons weer soos gewoonlik met Wiskunde. Party wil- wil nog kanse vat, maar die herder begin al hier en daar ‘n naam ken en sy vat die spulletjie netjies vas. Sophia werk flink en vinnig, maar ai tog,die stomme Shaun kan letterlik NIKS doen nie. Hy moet na ‘n spesiale skool toe gaan, maar ons wag nog vir terugvoer van die department af. Die nuwe stelsel faal die sukkelkinders.

Twee ramme sit hulle neuse neuse en toedruk terwyl hulle mekaar beskuldigend aangluur.

“Mêêêêêêm, samwan faartit,” klik die ooitjie wat voor die twee sit. Onnodige inligting, want die “klank” is die hele klas vol.

“Who smelt it first?” vra die herder met ‘n plan.

“He did!” blêr die twee gelyk en die voorvingers wys na mekaar toe.

“You aar laaiieng!” stry hulle om die beurt met mekaar.

“Nobody is lying, you are both sitting,” sê die herder tong in die kies. Die slimmes val amper van hulle stoele af soos hulle skaterlag.

Intussen is Buurvrou weer grompie met die balhoriges in haar klas. Die herder spits haar ore om beter te kan hoor.

“Kyk voor jou en doen jou werk! Go blow your nose! Ag nee sies man!” gril sy.

Die herder onderdruk ‘n glimlag. Dit het begin reën. Daar word besluit om dit te vier met ‘n bietjie kuns. Dit sal almal sommer laat ontspan ook. Die kudde teken ‘n figuur wat onder ‘n sambreel loop.

Die skapies teken. Sophia teken nie. Sy wag vir haar vervoer om haar te kom haal. Van die Moslem kinders loop vroeg op 'n Vrydag.
Die skapies teken. Sophia teken nie. Sy wag vir haar vervoer om haar te kom haal. Van die Moslem kinders loop vroeg op ‘n Vrydag.

“Ies iet rynieng?” vra ‘n vaak vissie skielik ‘n retoriese vraag.

“Yessss, haibô, mên!” bulder haar buurman.Hy kry ‘n seergemaakte kyk.

“Thula wêna and draw!” beveel die herder en kyk streng oor haar bril. Die tongetjies hang weer uit soos hulle konsentreer.

Die eerste skoolweek breek ten einde laaste aan. Die herder en haar kollega N gaan die middag na skool na N se suster toe. Dié kyk ons stomverbaas aan.

“Die skool het dan nou net begin en julle lyk of julle al ‘n maand agter die blad het,” lag sy.

N plof neer op ‘n beanbag en sê grimmig,”Die kinders in my klas is blêddie onmoontlik! Ek is nou so moeg!”

Die herder lag en sê,”Toemaar so oor ‘n maand,het ons hulle weer na ons hand getem!”

Die herder voel dikwels soos hierdie skilpad!
Die herder voel dikwels soos hierdie skilpad!

Dag twee in die multikulturele skaapkraal

Toe die herder vanoggend verby die Graad 4 skapies loop, lag hulle met vriendelike oop bekkies en roep vrolik, “Hello Mêêêm! We miess you Mêêêm” Die herder waai vriendelik terug.

Graad drie R het vandag ‘n Indiese ooitjie by gekry.Die kind is beeldskoon.Sy het laaang wimpers en ‘n kuiltjie in die ken.Hulle huistaal is Hindi en synde dit nie een van die tale is wat die herder kan besig nie, is sy bitter dankbaar dat die kind darem die Britse taal kan praat. Die pa is egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Hy sukkel redelik om te kommunikeer, maar hulle kon mekaar darem op die ou einde verstaan.

Die nuwe ooitjie se naam is Sophia Ansari
Die nuwe ooitjie se naam is Sophia Ansari

Dit is heel eerste Wiskundetyd in die skaapkraal. Die herder skryf die datum netjies op die bord en begin geesdriftig verduidelik dat die bordkryt spat. Met die eerste som se skrywe, gewaar sy dat Moedi so wrintiewaar vlermuis – onderstebo aan haar stoel hang.

“Why are you hanging upside down! UTLWA when I speak,BONA on the board and most of all FOCUS! ”raas die herder iesegrimmig. Met een verskrikte beweging vlieg die ooitjie regop, maak haar boek oop en skryf blitsig die datum en die som. Sy het haar binnevet skoon weggeskrik.

Die ramme in die klas is uiteraard besig om hulle limiete met die herder te toets.Die Mêêêm het egter nie verniet twee seuns grootgemaak nie.Sy weet presies wat in ‘n rammetjie- uitnek se kop broei.

Sibusiso gooi Emmannuel  “potshot” met sy splinternuwe uitveër.

“Mêêêm,” kla die slagoffer luidkeels.

“What is rule one of our classroom, Sibusiso?” vra die herder grompie en voel hoe haar bloeddruk styg.

“Reeespect ôôôll prôpirtee,” koor die kudde soos een skaap.

Sibusiso het darem die oordentlikheid om te maak of hy skaam kry. Hy is allermins beïndruk met sy “Time out” tyd, maar die herder gee hom ‘n koue skouer.

Al Manlief se epos kom ewe skielik op my foon deur nadat my oudste seun my pos adres op fb verander het. My foon gaan op stadiums tekere soos ‘n maansiek kanarie.

“Mêêêm, samwhan whiieeeestled,” klik een van die ooitjies en kyk beskuldigend rond.

Die herder verduidelik dat dit haar foon is en dat hulle dit moet ignoreer.

Intussen vat die buurvrou die spulletjie langsaan in ‘n mengsel van Engels en Afrikaans vas.

Dit klink min of meer as volg,”Children,open your books…Haai man, kyk voor jou!!… Write the date here… Haai man ek praat mos met jou!!! Waar sit jou ore?”

Die “Zooloos” praat toe mos weer hulle moedertaal tot misnoeë van die ander stamme. Hulle moet maar môre van bed en tafel geskei word.

Die herder begin darem al so hier en daar ‘n naam ken.Hoe gouer, hoe beter. Die eerste week is amper verby en die vakansie voel soos ‘n ewigheid gelede!

sheep dark cloud 1

Die herder gooi selfs ‘n paar woorde Sotho om die nuwe lammers te tem

Die weer was ons uiters genadig op die eerste dag. Dit was heerlik koel in Johannesburg na die versengende hitte van die afgelope week

Die uitsig uit my klas op die heuwels van Eikenhof
Die uitsig uit my klas op die heuwels van Eikenhof

Mev. L het in die oggendgebed darem netjies weer vir die Here in ekstra detail vertel wat Hy  alles MOET doen…

die kinders SAL hulle hierdie jaar gedra,

die werkers SAL die skool mooi skoonmaak,

die herders SAL nie vir mekaar grom nie en die baas SAL  van nou af gaaf met die luies ook sal wees

… Mev. K het instemmend met elke  ferm bevel haar goedkeuring met luide S’e gefluitfluister.Ek het later net met my kop in my hande gesit en gewens die vrou wil nou  verbrands amen sê voor ek my top blaas.

Mnr, W stap kort daarna in en sê ewe beïndruk dat hy net een bloedjie sien huil het. Dis nogal ‘n eerste. Gewoonlik hoor mens die weemoedige geblêr van ‘n hele paar nuwe lammers.

Ek ontmoet my nuwe Graad 3 lammers. Hulle was verlede jaar in juffrou P se klas. Daar is op die oomblik net 36 in my klas. Dit is darem ses minder as verlede jaar. Dit sal wonderlik wees as dit so kan bly.

Maak net ten minste of julle werk, beveel die herder streng
Maak net ten minste of julle werk, beveel die herder streng

Ek ken nog nie die name nie. Op die oomblik gaan dit nog op hierdie trant, “Hey wêna! Yes you, my boy! Utlwa (hoor / luister) now when I talk … Thula wêna en doen nou jou werk, jimmelkie tog!”

“Mêêêêm they aar speeeekieng Zooloo toe eeech aaather agêêên,” kom die eerste klik. Dit laat my  skielik wonder wie gaan Bokang as SABC 3 opvolg.

Ek herken ‘n  hele paar jonger boeties en sussies van vorige skapies in my klas. Al drie die du Plessis kinders is deur hierdie herder se hande. Verder is daar nog Tiarah, Lerato , Jouberto en nog ‘n paar ander ook wat ouer boeties of sussies by my gehad het.

Links voor sit Tiarah- haar sussie was ook in my klas. Net agter haar sit Lerato wie se boetie ook in my klas was
Links voor sit Tiarah- haar sussie was ook in my klas. Net agter haar sit Lerato wie se boetie ook in my klas was

Twee ramme gooi mekaar met die lyk van ‘n gesneuwelde potlood.

“Do you want to fly one way ticket out of the window?” maak die herder ydele dreigemente. Dit lyk darem nie of hulle die ruim aanbod wil aanvaar nie.

Die herder praat ‘n mengsel van Engels, Afrikaans en die paar woorde Sotho wat sy ken. Uiteindelik besef van die balhoriges dat hulle hier moet werk. Tot die ou spesiale seuntjie teken vir sy nuwe juffrou ‘n mooi stokmannetjie.

Soos wat die jaar aanstap, sal hierdie herder mettertyd elke skapie soos haar eie leer ken en liefkry.

‘n Bedrywige week in ‘n neutedop

Ons het ‘n besige week agter die rug. Dinsdag het die kinders in die tuin ingespring en gespit en geplant dat die biesies bewe…

Ouboet en Kleinboet  besig om te dolwe
Ouboet en Kleinboet besig om te plant
Jorientjies en Jesselessie
Jorientjies en Jesselessie

Jan het by die ouetehuis gepreek en met sy terugkoms vir ‘n wyle in raadgewende hoedanigheid daar rondgehang. Hy het darem ook so ‘n paar spitte met die graaf gegee ter ondersteuning van die aksie. Ma het foto’s geneem tot almal se misnoeë.” Moet ons net nie  tag op facebook nie,’ kom die streng vermaning van alle kante.

Die leraar in raadgewende hoedandigheid ...
Die leraar in raadgewende hoedandigheid …
Die manne ontspan na die harde arbeid
Die manne ontspan na die harde arbeid

Woensdagaand kry ons Jessiekind ‘n epos. Sy het ‘n driemaande internskapkontrak by ANGLO gekry as psigometris. Sy het verlede jaar haar honneurs in Bedryfsielkunde voltooi. Die opgewondenheid word afgewissel met onsekerheid en weemoed om die nes te verlaat. My gemoed is ook vol om my “dogtertjie” (wat drie jaar by ons gebly het) te laat gaan.

“Jou vlerke is sterk, Jessiekind, jy kan self vlieg, Sussakie” sê ek met ‘n gemoed wat dreig om oor te loop,”Ons sal altyd jou vangnet wees as jy voel jy wil val.”

Jan, ek, Kleinboet en Jess is Woensdag met twee karre Rustenburg toe. Dis sowat twee en ‘n halfure se ry. Twee karre, want ek en Jan kom die aand weer terug, terwyl Kleinboet en Jessie moet bly tot Vrydag om dinge by haar werk uit te sorteer.

So stap “ la familia” tot almal se verbasing by haar nuwe werkplek in. Ek en Jan wil uitvind omtrent blyplek vir die kind, want ons wil haar nie sommer vir die wolwe gooi nie. Kleinboet is saam om sy geliefde se arms omhoog te hou. Ouboet en Jorientjies (my Bloemfontein kinders) bly by die huis om die fort te hou.

Alles gebeur  van hier af in ‘n harwar. Jess moet ‘n karretjie kry. Die studentemotor wat sy gehad het sal nie eers Randfontein haal nie, wat nog te sê Rustenburg. Ons begin oral navraag doen, Vriendin Retha wil haar karretjie verkoop teen ‘n ongelooflike goeie prys.

Links van die nuwe karretjie, steek 'n stukkie van haar ou motor uit.
Links van die nuwe karretjie, steek ‘n stukkie van haar ou motor uit

Die karretjie het is feitlik nuut en het bitter min kilometers op. So kry Jessiekie ook uiteindelik nuwe wiele na vier jaar se smag daarna.

Jess in haar nuwe karretjie
Jess in haar nuwe karretjie- die lekkerste lekkerte!

Ons nessie gaan nou weer vreeslik leeg wees… Maandag vertrek al die kuikens na hulle verskeie oorde en studies / werke toe. Ek het darem nog een neskuiken alias Kleinboet oor. Dit gaan weer van vooraf ‘n aanpassing wees!

Die hitte werk almal se galle

Dit is weereens ‘n bedompige dag en die gemoedere by die skool is tot op die dunste nerwe geskawe. Herders grom vir herders, lammers baklei dat die wolle spat en herders vat geen nonsens van enige balhorige lammer nie.

Juffrou D raak kort voor eerste pouse heeltemal roekeloos en skreeu uit volle bors vir ‘n paar belhamels wat vir haar weghardloop:”Come heer joe twoe maaifoedies! Vandag slaat ek vir julle morsdoooood!” Natuurlik ignoreer hulle die tierende juffrou. Wie wil nou op so ‘n brose ouderdom sy lewe verlaat.

Intussen het Kamo het vir Lulonke aan die kroonjuwele beetgekry en sy ratte vir hom met mening van eerste rat na “reverse gear” verander. Lulonke is uit die aard van die saak so briesend dat hy gerus ‘n pofadder kan soen. Die twee skreeu mekaar wedersyds dood en die herder kan nie ‘n woord uitmaak wat hulle vir haar blêr nie.

“What happened?” vra die herder iesegrimmig en kyk moedeloos na die twee ramme.

” Mêêêêm, he grêbbed me by maai praaivit paarts and skeeeezzzed them ekstriemlie haaaarddddd!” huilkerm Lulonke dik die duiwel in.

”But Mêêêêm,” kom die verweer,”He poooshed maai hêêêd agênst the stêêêrs!” verweer Kamo.

“Dôôôônderdag!” bulder die herder in haar moedertaal en slaan vies met haar vuis op die tafel, “Ek is lus en trek jou basvelle met ‘n groenteskillertjie af, Kamo!” Die knapie verstaan nie Afrikaans nie, maar die herder se gesigsuitdrukking sê alles en nog meer!

“Apologise,Kamo!” kom die kwaai bevel.

“Sorreeee frênd,” sê Kamo. Alhoewel Kamo nie besonder “sorree” lyk nie, is Lulonke tevrede en die twee gaan sit weer.

‘n Minuut of wat se soetsalige vrede daal neer oor die kraal. Die herder sluit haar oë vir ‘n oomblik en gee toe aan die stilte…

”Mêêêêm….. Daliwonga did drôôô a nyked pirsin!” weergalm dit skielik deur die klas. Mêêêêm wip amper deur die dak soos sy skrik.

Die herder sug gelate.”What is the past tense of draw?” kry sy ‘n vinnige taalles in.

” Mêêêêm….. Daliwongai droew a nyked pirsin!”

“Iejôôôh! Jona wêê, Haibô…” blêr die ooitjies geskok, maar rek tog die nekkies meerkat – nuuskierig om die gewraakte skets te sien.

”Bring the picture here,Daliwonga,” sê die herder nou lelik grompie. Die kind bring die skets skoorvoetend vir haar. Die een toon boor in die grond en ‘n oog loer benoud om die atmosfeer te bepaal.

Ag jittekie tog, SABC3, alias Bokang, die prent is dan van ‘n geslaglose mannetjie. Dit lyk of hy ‘n papierpop wou maak. Trek tog net groot asseblief vir jou pop ‘n broek aan, sê die herder. Daliwonga lyk verlig oor sy Mêêêm se reaksie.

Die herder het egter nou genoeg van praaivit paarts en nyked pirsins gehad en sy beveel, “Take out your Class readers and open them on page…!”

sheep naked