We shall live ênd straaaik for frieeeeedim

“We shall live ênd straaaik for frieeeeedim,” sing die ouer skape met groot entoesiasme in die saal. Die herder glimlag  geamuseerd en dink by haarself, ja wraggies!

Die herder was na haar seun se gradeplegtigheid toe. ‘n Jong manlike herder het die kudde gebabasit. Die dag toe die sy terugkeer, skreeubely almal mekaar se sondes so luidkeels dat selfs die Egiptenare in Kairo se ore tuit. Die herder vererg haar in ‘n ander bloedgroep vir die geskrou en deel vir elke lammer ‘n skoon vel papier uit.

“Toe, skryf alles neer wat julle gesien het,” sê die herder goed grompie,” dan sal ek besluit wie moet aan die pen ry”. Met die skryfgoed in die kloutjies neem hulle woord vir woord wraak op die medeskapies.

Die herder neem die papiere in. Jouberto se naam is sonder uitsondering op elke liewe papier. Selfs my op my sukkelskapie se papier staan “Joberto”. Die res kan ek nie uitmaak nie.Skynbaar het die rammetjie se kop uitgehaak en het hy met sy voete op die tafel gesit, hande agter die kop, pure staatsamptenaar… we shall live and strike for freedom! Inderdaad!

Laastens kom die herder by Jouberto se briefie… “I neva saw nating” staan daar so ewe. Natuurlik het die knaap niks gesien nie. Hy was te besig om stout te wees. Die herder is so dik van die lag dat die mannetjie skoon lig daarvan afkom.

Soveel dae,soveel dinge by die skaapkraal…

Herder B gryp haar rug vas en gaan aan’t skreeu. Die ander herders hardloop hulle bene paniekerig af om te gaan kyk. Sy weier om R3000 vir ‘n ambulans te betaal en word met die atletiek se draagbaar afgedra. Vandaar af word sy agter op die snoepie se bakkie gelaai en hospitaal toe gejaag vir ‘n voltarin inspuiting.

Herder D gee ‘n Wiskundeles oor geld. Sy het regte geld op haar tafel uitgestal. Xola se oë hang aan steeltjies soos hy begerend na die geld staar. Die herder se verduideliking is bysaak. Die ram het mos hoeka laaang vingers. Intussen dreun herder D niksvermoedend voort met haar les…

Wanga maak Tiarah die duiwel in. Sy beweer hy het haar raakgestamp.  Sy neem wraak deur hom ‘n “dumb fêt blêckie” te noem. Wanga is buite himself van woede en wil haar opsluit ‘n snotklap gee.

“You are both wrong,” probeer die herder Salomo speel, “apologise to each other! Dadelik! Ek praat nie weer nie, capiche?”

“Sorreeeee frênd,” brom hulle onwillig terwyl hulle mekaar steeds vererg aangluur.

Van die herders is afwesig en ons sit met ongeveer 50 lammers in die klasse. Deur die genade oorleef almal om die storie te vertel.  Die toesiglammers verbeel hulle, hulle is met vakansie en is bitter lui om te werk. Hulle wil ook live en straaik for frieeedim! Dit maak hierdie herder sommer baie grompie.

Sy slaan met haar vuis op die tafel en bulder,”Tell them we work in this class. We don’t play around!”

Whee wêêrk  haard in this klaaas, wheee dount play around,” blêr die Graad 3 R lammers. Die luies blêr dit ekstra hard uit en die herder onderdruk ‘n glimlag. So is elke herder haar lammers gewoond en die lammers ken weer hulle herder se stem

sheep on strike

21 thoughts on “We shall live ênd straaaik for frieeeeedim

  1. Ha ha dis nou n hele gedoente en opwinding. Die klomp is altyd meer uit hul kassies as ander(vreemdes) by is. Genade is wat mens meeste nodig het met sulke dae.

    Liked by 1 person

  2. Hoe slim! Om hulle toe te laat om hul hartjies uit te skryf oor al die onregte en dinge. So kry elkeen kans om te klik en dis sommer ook terapie vir hulle en `n blaaskans vir die herder. Maar ek is aan Jouberto se kant. Hy was seker besig met sy werk, daarom dat hy “neva saw nating”. Kies hom vir klaskaptein, sê ek! 🙂

    Liked by 1 person

Leave a comment