Soms rafel die herder uit

“Ȇnd dieliewir us not from ieeewil,” skreeublêr die lammers. Skynbaar dink meeste van hulle die Here is stokdoof. Die gebed het egter niks gehelp nie, want hulle het skaars “Ymen,“ geskril toe die eerste klagte inkom.

“Mêêêêm, Jouberto pienshed mie when we pryyyyd!” Dis Shaun, my ou sukkelskapie.

Jouberto ontken alles kategories soos wat die owerhede ons mooi geleer het, maar die herder is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. Nie lank nie of die rammetjie beken skoorvoetend skuld. Die herder gee hom die berugte KYK wat enige skapie laat verskrompel.

Die skapies doen deelsomme met ‘n res. Dis ‘n moeilike konsep vir die meeste van hulle en die herder doen geduldig som vir som saam met die kudde.  Te midde van ‘n verduideliking vang haar oog  vir Olwethu  en Ryleigh wat so waar as wraggies “rock, scissors, paper” speel.

Die herder kry amper sewe soorte stuipes en slaan gefrustreerd met haar vuis teen die bord. Dôôôônnnnerdag! bulder sy en haar gesig is bloedrooi. Die kudde wip soos hulle skrik.

Na Wiskunde doen die skapies spelling.  Skielik, kom die gewraakte stemmetjie, “Mêêêêm, Thando wommitit.” Dis Sizwe, sy buurman.

Jittekie tog, hardloop my kind!!! Thando hardloop kloutjie voor die bekkie by die klas uit.

Het hy op die vloer gemors, wil die herder benoud weet.

“ Yes Mêêêêm, some spit,” kom die gevreesde antwoord

“Iets not spit, iet ies pap,” bulder Wanga beterweterig.

Ag jimmelkie tog, prewel die herder en voel die naarheid in haar opstoot. Gelukkig was die skade nie te groot nie en kon met ‘n snesie opgeruim word.Dit blyk asof die rammetjie himself naar gehoes het.Stomme kind.

Na pouse kom die ramme veg- veg die klas ingestorm, Dit is net horings wat klap en dit “Mêêêm…”soos ‘n kattekoor op hitte. Een ram huil glads en hou sy oog vas.

Waste gemêm is dit met julle, vra die herder grompie.

“Hie pooshed mie down and hietet mie,” huilblêr die rammetjie.

Die speletjie wat hulle speel blyk as volg te wees. Stamp ‘n maatjie om en tik hom dik.

Is julle total en al simple, brom die herder iesegrimmig, julle kan mos dink iemand gaan seerkry! Hulle stem hartroerend saam terwyl hulle mekaar nog steeds aangluur.

“ SITTTTT!” bulder die herder en die ramme skarrel vir hulle plekke.

Nou is die herder ekstra streng, Niemand mag uit ‘n stoel roer nie. Wanga waag sowaar sy lewe deur op te staan.

“Where did you go now,” vies die herder haar.

“ Toe blou maai nous,” kom die antwoord. Dis hulle ou laai. Wil kwansuis hulle neuse blaas as hulle nie wil werk nie.

“Show me the tissue,” grom die herder. Hy wys.

“What is that?” vra die herder niksvermoedend…

“Iet ies snot Mêêêêm,” kom die antwoord triomfanklik.

Vatso Katvis! Die herder leer ook nie haar les nie. Sy bars uit van die lag en die kudde lag lekker saam.

Die res van die dag verloop relatief rustig en die skapies werk dat die wolle waai. Botter kan nie in die bekkies smelt nie. Sulke tye kan mens hulle gerus opsoen…

skapie rafel uit

18 thoughts on “Soms rafel die herder uit

  1. Ai, dis maar n gedoente om kalm te bly enom hul kalm te hou. Hul is soos vlooie, krap jy waar hy byt spring hy na volgende plek en byt weer. 🙂

    Liked by 1 person

  2. Hmm, liewe uitrafelende herder, wie se humorsin haar weer eens gered het, jy moes jou gebruiklike waarskuwing gegee het: ‘nie vir sensitiewe lesers nie’. Veral as die een slapelose leser pas ‘n klomp Moedersdagsjokolades verorber het!

    Liked by 1 person

Leave a comment