DIe herder kort ‘n vakansie na die vakansie

Die herders sit nog so vir oulaas na die vakansie in die personeelkamer en ontspan, toe ‘n deputasie van ontstokenes daar inbars.

“Mêêêêm, the bieegg children aar tryieng to kill a spaaaaider…” kla hulle soos een man.

Die herder kyk stout na haar twee vriendinne wat daar sit.

“Wie van julle het die hoogste gesag by hierdie skool?” vra sy met ‘n plan.

“Seker Corrie, sê Bells ”

“Nou ja, Corrie, gaan red daai spinnekop,” sê  die herder en skud die duiweltjie op haar skouer reg.

Albei van hulle is ewe lugtig vir die agtpotiges en reken hulle sal eerder in die veiligheid van die personeelkamer bly. Hulle laat hulle nie aanstaar deur meervoudige spinnekopogies nie.

Met dié lui die klok. Toe ek en Buurvrou uit die adminblok gestap kom, staan daar ‘n erewag Graad een haasbekkies met opgewonde gesiggies ons en inwag.

“Mêêêêm, Sipho wôômititt ien the row…”

Lekker so op mens se nugtermaag!

“Wil jy gou gaan kyk?” vra die herder stout vir Buurvrou.

“Ag nee sies man, is jy laf?” sê sy vies en haar armhare staan penorent soos sy gril.

Dis nie die einde van die opwinding nie. ‘n Lammer kom met ‘n  wit bosduif in sy hande vasgeklem.

“This piedjin got hurt. Iet can’t flaai,Mêêêêm” en met dié druk hy die duif onder Buurvrou se  hiperhigiëniese neus. Sy kry amper ‘n floute.

“Take the pigeon to Jan- Rick,” sê die herder. Hy is die een wat na die dierewêreld by die skool omsien. Wat verder geword het, sal die herder nie weet nie.

“Hierdie ouers is nie lekker nie,” bromkla Buurvrou, “een reken my mos haar kind het ‘n skeur in sy broek van klas skoonmaak. Bid jou dit aan!“

Die herder lag lekker, want sy weet Buurvrou het ‘n oulike mop waarmee die kinders werk.

In die klas is dit verkouetyd. Mens kan die kieme sien, hoor en voel. Die lammers snuiwe en snork en nies dat die sop letterlik en figuurlik spat. Die herder het haar hande vol om gesond te bly te midde van die felle aanslae. Nies in jou elmboog, roep die herder desperaat uit! Hoor is egter min…

'You're supposed to sneeze on your own elbow.'

Daar is vorms wat moet ingevul word en konsentrasie verg. Daarom maan die herder die lammers om haar vir vyf minute nie te steur nie, sodat sy kan fokus.

Vra nou vir ‘n skapie so iets en dis so goed jy stuur ‘n ope uitnodiging na jou lessenaar toe.

“Mêêêêm, may I blow maai nous?”- Asseblief ja!

“Mêêêêm may I leave the room? “ -YESSSSS!

“Mêêêêm maai pensil ies miessieng…” – My maggiestraat, soek die ding!

“Mêêêêm he ies côpyieng maai wêrk..” kla ‘n sukkelskapie. Snaaks dat hulle altyd dink die slimmes skryf hulle werk af.

Die herder sug moedeloos en slaan haar oë hulpsoekend op na die heuwels.

‘n Wakker ooitjie blêr skril,” Can’t joe see joe aar diestêrbieng Mêêêêm? Leave Mêêêêm aloun now, eish!” en sy gluur die kudde streng aan.

Die Mêêêêm gee haar ‘n dankbare kyk en probeer haar werk gou klaarmaak.

Week een is skaars verby of die herder lus al klaar weer ‘n vakansie met ‘n seer hart.

Week een is skaars verby of die herder lus al klaar weer ‘n vakansie met ‘n seer hart.

17 thoughts on “DIe herder kort ‘n vakansie na die vakansie

  1. Net 1 uur terug en dit voel of n hele kwartaal verby is so gou kom mens in die ding in. Ek het een jaar een van my skapies gehad wat baie lief vir my was. Hy sal so bo-op jou kom staan en arm om jou gooi. Hy het altyd die ander afgeweer as daar net n paar minute nodig is om vorm in te vul. Ek sien sy goedige ou gesiggie nog voor my na 6 jaar sonder hulle!

    Liked by 1 person

Leave a comment