Gee maar ‘n skapie sy eie herder

Al is ‘n herder ook hoe ‘n heks, dit bly ‘n feit soos ‘n koei dat haar skapies wel mettertyd gewoond aan haar raak. ‘n Aflosherder kan nogal trauma onder sensitiewe lammersiele veroorsaak.

Herder D is die betrokke dag op studieverlof en herder X staan vir haar in. Hoewel herder X vreeslik beneuk lyk, skuil daar ‘n sagte hartjie diep in haar binneste.

Omdat herder D nie besonder streng is nie, het sy ‘n onhebbelike kudde in haar klas. Juffrou X duld  egter nie hulle balhorigheid nie. Sy gooi hulle behoorlik toe onder die werk. Daar moenie nog tyd vir rondkyk of blêr wees nie. Vir ‘n verandering sit die wolbarbaartjies vir ‘n slag op hulle stoeltjies en maak of hulle vreeslik besig is. Mens kan vir ‘n verandering ‘n speld in die kraal hoor val…

Toe die herder so ‘n ruk voor pouse oorstap om nog werkkaarte te gaan gee, sit die spul soos ‘n klomp vasgekeerde skeepsrotte. Die oë word wit plafonwaarts geslaan om te kyk waar hulle hulp vandaan kom. Voor in die klas staan herder X met ‘n grimmige uitdrukking op die gesig. Sy tik ritmies met ‘n liniaal op ‘n tafel.

“En nou?” vra die herder dik van die lag, “as jy so befoeterd lyk?”

“Hierdie spul maaifoedies is wragtag te lui om te werk,” sê herder X grompie en gluur ‘n rammetjie aan wat waag om op te kyk.

Een lammer waag toe mos so waar as vet sy lewe deur te praat.

” Whoo sêêêd joe may tôôôlk?” bulder herder X in haar perfekte Boere – Engels.

Die skuldige se oë dop van pure benoudheid om terwyl die bekkie geluidloos oop en toe gaan.

Pouse kom klik een van die ooitjies ewe vrymoedig by die herder.

”Teacher Carol, Ryall and a few friends are planning to eskyp.”

Ryall,die klein rokertjie – hy en sy tjommies.

Die herder is DIK van die lag. Sy wonder waarheen wil hulle ontsnap. Sy vertel vir herder X van die prisoniers se ontsnappingsplanne.

Herder X lag alte lekker en roep vir Ryall nader.

” Whôt doe joe smouk? Donkiedrolle behaaind de Snoepiewôll?”

” Nôôôôô, Mêêêêm!” lag die rammetjie skaam.

Gelukkig vir die bedroefdes, kom dié dag ook op ‘n einde en kan hulle weer vryer asemhaal.

Wie want toe bryk frieeee!
         Wie want toe bryk frieeee!

15 thoughts on “Gee maar ‘n skapie sy eie herder

  1. Ek kan al die gesiggies sien wat doodsbenoud na die deur en vensters loer opsoek na ‘n uitkomkans. Ek kom glad nie met kinders in kontak nie, maar ek moet se hierdie skaaptroppie is nogals oulik. 🙂

    Liked by 1 person

  2. Dis baie moeilik vir rustelose skapies om te moet sit op hul eie stoele en om hul eie werkies te moet doen. Baie lekerder om agter kleiner skapies weg te kruip en hul voor te stoot. Daardie rokers is meestal die voorlopers en kom nie sommer in moeilikheid nie.

    Liked by 1 person

Leave a comment