Nimmer ‘n saai oomblik in onse Britse skaapkraal …

My graad drie skapies skryf die oggend Afrikaanse sinne dat die sop so spat. Skielik kom die skril blêr: “Mêêêêêm, Moedie baaitet maai hêêênd! WHAAAAAA!” Die herder wip ‘n meter hoog soos sy skrik!

“Hie did toek maai styshineree wiffout aaskieng…” verdedig Moedi in dubbele verlede tyd. Die wenende sit met ‘n verklikkende stompiespotlood in sy hande. Uitgevang!

“SIEEEESSSS, both of you,” grom die herder grimmig en slaan haar oë op na Eikenhof se heuwels, “Nou gaat julle almal werk en ek wil nie weer ‘n piep of ‘n blêr uit een van julle se bekkies hoor nie, Verstaan julle vir my baie mooi?”

“Yêêês, Mêêêm,” blêr die botterbekkies. Die herder kyk met sagte oë na haar kudde. Soms wil sy hulle vermoor, maar laat iemand anders net aan hulle raak!

Buurvrou het ‘n sensitiewe neus en is hiperhigiënies. Die herder loer vinnig in by haar klas om die wiskunde te bespreek. ‘n Skapie kom knyp- knyp na ons toe aangesluip. Saam met die benoude kom ‘n verdagte doodsreuk. “Genade ons”, sê die herder vir Buurvrou, “sê die kind moet onmiddellik badkamer toe gaan.”

” May I ghou toe the tooooilit, Mêêêêm,” blêr die rammetjie en trippel benoud tond. Met dié dring die doodsreuk Buurvrou se sensitiewe neusgate ook binne.

” Did you fart? Or did you pooh in your pants,” vra Buurvrou ontaktvol terwyl haar armhare regopstaan.

” I  jast faaaartit, Mêêêm,” sê die rammetjie met ‘n benoude uitdrukking op die gevreetjie.

” Go, GOOO! Take paper and wash your hands,” roep die Buurvrou desperaat uit,Sy gee ‘n paar  fris spuite met haar deodorant in die klas. Die voorste ooitjies druk hulle kloutjies vies oor hulle snoetjies en die ogies rol wit in die kaste.

” Tyyyyk teeeeshooo!” moedig hulle die slagoffertjie geesdriftig aan. Buurvrou help die kind omtrent by die deur uit. ” Are you sure you did not pooh in your pants?”  roep sy agter hom aan.

“ Nooooo, Mêêêm…” blêr hy oor sy skouer en nael dat hy so klein word.

Die herder lag. “Doen die vingertoets,” sê ek moedswillig vir die paniekerige juffrou. Toe gril sy eers!

Na pouse staan ‘n briesende leier met drie graad een lammertjies voor my deur. Twee van hulle het haar gevloek, sê sy. Hulle het gesê sy is ‘n “tokkolosie wiff a baboon hêd.” Die derde een is die ”witness”. Hy staan met ‘n selftevrede haasbekkie daar rond asof hy ‘n hoender in die bank het.

”Eet julle met daai monde,” vra die herder vies vir die twee kleintjies, “ag nie siesa man!”

Hulle het darem die oordentlikheid om skaam te kry. Die herder stuur hulle terug klas toe met die allergruwelikste doodsdreigemente. Stert tussen die beentjies sluip hulle terug.

Die res van die dag verloop redelik vlot. Die herder lief haar werk, want daar is nimmer ‘n vervelige ookblik in die Britse skaapkraal.

Hierdie skapie is deur Dirkie op my fb blaai gepos
Hierdie skapie is deur Dirkie op my fb blaai gepos

18 thoughts on “Nimmer ‘n saai oomblik in onse Britse skaapkraal …

  1. Ek het al geskater by “baaitet maai hêêênd! ” Is dit nie so tipies van kleintjies daardie ouderdom nie? Ek geniet die skapies se geblêr!

    Liked by 1 person

      1. Beslis nie n vuurhoutjie daar trek nie. Jy sal n weerligstraal laat blits tot waar die begin! Ha ha, lekker kry ek nou

        Liked by 1 person

Leave a comment