Groen skapies… nie vir sensitiewe lesers nie!

Een van die dinge wat ‘n herder die meeste vrees, is dat ‘n skapie in haar klas naar word, of ‘n nommer twee ongeluk in die broek het. Veral as die herder die dag self ook so ‘n bietjie onder die weer voel.

Die skapies is vroegdag besig om honderde,tiene en ene somme te doen. Die herder roep die lammers om een – een vir haar te kom lees.

Skielik is daar ‘n beroering in die klas. Die herder kyk geïrriteerd op.‘n Grasgroen ooitjie staan met groot oë en bollende kieste voor haar. Die pootjies is geklem voor die bekkie.

“Runnnnn!!!” gil die herder paniekerig,maar dis te laat. Nomusa het ‘n fris boerekat geskiet. Gisteraand se ete lê uitgestal op die vloer. Daar het selfs ‘n bietjie op die stomme lesertjie se skoen gespat. Die herder voel ‘n mislike moedeloosheid in haar opstoot. Die lesertjie lyk self nie te vars nie.

“Mêêêêm, Nomusa wôôômitet,’’ klik SABC 3 oftewel Cassie- Lee onnodiglik. Die herder gee haar ‘n verwytende kyk!

Nou is al die skapies die ene belangstelling. Hulle rek hulle nekke meerkatnuuskierig om beter te sien. Een of twee staan selfs op om kwansuis potlode skerp te maak.

“What daz iet loek laaik?” wil een rammetjie so waar as wraggies weet.

“Ag liewe jimmelkie tog my kind,…”

Peesis of tjiekin, rice, pees and kêrrits,” gee Wanga wraaksugtige detail. Hulle wil mos weet. Hy sal hulle vertel…

“SIEEESSSSS!” gril die spulletjie en heelwat otterkies loer om te sien Wanga nie dalk lieg nie.

Alles gebeur in ‘n kwessie van ‘n minuut.

Die herder stuur Nomusa,’n maatjie en ‘n waslap badkamer toe om haarself te gaan skoonmaak. Daarna keer die herder ‘n hele emmer water op die spulletjie om. Dit doen die truuk redelik. ‘n Paar probeerslae later is die vloer skoon en die herder letterlik en figuurlik mislik. Sy syg flou op haar stoel neer. Nomusa se ouers word gebel om haar groot asseblief so gou as moontlik te kom haal.

Die skapies bespreek die opwindende gebeurtenis met geesdrif en bypassende gebare. Die herder staar hulle net getraumatiseerd aan.

Toe sy beter voel, steek sy die PREEK af. Hulle moet hulle pootjies afhardloop as hulle naarheid in Botswana voel aankom.

“Moenie vra nie, moenie huil nie… jy moet HÔÔLLLL dat jy so klein word.. Verstehen Sie, capiche, verstaan julle en do you understand?” predik sy.

“Yeeeesss Mêêêm,” blêr die wolskapies, “Kapeeeeesh!” Die bekkies lag breed.

Die middag keer die herder se sin vir humor geleidelik terug en sy lag alte lekker terwyl sy vir haar man die storie vertel.

smiling sheep1
        Kapeeesh!!!

28 thoughts on “Groen skapies… nie vir sensitiewe lesers nie!

  1. Dis te dierbaar.Ek onthou vandag nog toe ek in graad twee was en een van die outjies ‘n nommer twee glipsie gehad het.Dis al donkiejare terug en wys net watter indruk dit op ‘n kind maak. 😆

    Liked by 1 person

  2. Heheh! Dit laat my dink aan my maaikie Dirksen wat so lelike pienk gemors op die biblioteek se indeks gedeponeer het. Hy het ook nog so braaf braaf sy arm voor sy mond gehou, wangetjies gebol en wel. Dit was dit.
    Volgende oomblik straal dit behoorlik uit hom uit.
    Filemon, shame. Ek het die arme man so jammer gekry. Hy moes daai gemors kom skoonmaak. Kom hy daar aan met sy emmertjie en lappie en alhoewel hy dit nie pertinent gesê het nie, was daai “Eish” so duidelik soos daglig op sy gesig.

    Liked by 1 person

  3. Nee kyk, gastro is natuurlik ‘n perd van ‘n ander kleur! Ek hoop nie dit gebeur ooit in jou klas nie. Dis oorval mens mos voordat jy jou oe kan knip.

    Lekker gelees dankie!

    Liked by 1 person

  4. Ek is baie dankbaar dat die kinders hier gelukkig oud genoeg is om te weet wanneer ‘Geoooorge’ geroep gaan word! Baie snaaks geskryf. Dis net humor wat ‘n mens op die slegte dae kan laat oorleef!

    Liked by 1 person

  5. Hiehiehie – oulik man! Die skaapkraal het ook sy drama … Ekself het in my eerste graad gesukkel met penspyn (skuus, juffrou het my toe reg gehelp en gesê mens sê “maag”, nie pens)

    Laterjare het ek besef my spanning werk op my maag. Eenvoudig.

    Liked by 1 person

  6. Laat jy my nou dink aan die fyn, blonde Voortrekkeroffisiertjie wat my seun se spannetjie jarelank begelei het, en die dag toe die seuntjies op ‘n wilde helikpopterrit gegaan en sy agterna vrou-alleen die kajuit moes skoonmaak…

    Liked by 1 person

  7. ag shame arme skapie. Dis nie lekker om voor ander mense op te gooi nie (dis NOOIT lekker om op te gooi nie, glo ek, behalwe vir ‘n paar modelle wat dink dit gaan hulle beroepe red *sug*)

    ek hoop dit gaan beter met die groen skapie

    Like

Leave a comment