Rakkers en rapporte en radelose herders

Oueraande so na ‘n rapport se gee kan nogal baie emosioneel  uitputtend wees…

Arme klein So en so sukkel sy malle jis af om met die eise van Graad drie te  ‘’cope’’. Mamma en Pappa So en So vergeet gerieflikheidshalwe hoe hulle op skool gesukkel het.

‘’Hie mast jast wêrk haarder Mêêêm.Joe mast piensh hiem ief he das not wêrk… laaik this,’’  Sy haak af en gee die herder ‘n vieslike draaiknyp aan die arm. So hittete of  die herder gee vir Moeder So en So ‘n snotklap, maar haar opvoeding skop gelukkig betyds in en sy beheer haarself met ysere wil.

Juffrou C loop al weke met ‘n rugpyn wat haar vreugde steel. Mamma X gee haar ‘n vet klap ter demonstrasie op die rug. KLAKS, en ‘n werwel spring terug. Weg is die rugpyn. Juffrou C soen amper vir Mamma X uit pure dankbaarheid. In hierdie geval was die demonstrasie van nut en waarde.

sheep readingMoeder R stry met die juffrou F. Haar kind kan lees. Hoe het hy dan nou ‘n 2 vir Engels huistaal. Juffrou F pluk ‘n leesboekie uit en maak dit op die eerste bladsy oop. ‘’ Read,’’ beveel sy. Die rammetjie klank die eerste woord,’’ c..ê..t… c..ê..t,’’ Sy oog vang die prent van die hond,’’dôg,’’ sê hy triomfanklik. Hy kry ‘n kopklap by sy ma as beloning. Nee, nou verstaan sy nie. Hy is dan so slim by die huis…

Twee van juf G se seuns het in ‘n koeldrankblikkie gepiepie en die ander seuns daarvan laat drink. Buurvrou noem hulle ergerlik die koeldrankpisters en sê hulle moet bitter dankbaar wees dat hulle nie in haar klas is nie… Hulle word vir ‘n paar dae geskors. Graad drie belhameltjies wat al sulke gemene goed kan doen.

Dit bly maar ‘n taai toffie om ‘n kind op ‘n menswaardige manier te straf. Ek laat hulle hulle spelwoorde of tafels uitskryf terwyl hulle ‘’ Time out’’ sit. Op dié manier leer hulle ten minste iets.

Klein M is die dag weer in een van haar moedswillige buie. Juffrou S laat haar mamma, wat ook daar skoolhou, kom. Die volgende oomblik storm moeder M die klas binne met ‘n liederlike plank geklem in haar hande. Voor juffrou S enigsens kan keer, gee sy die kind ‘n paar harde rapse op die agterstewe met die plank. KADWAA! KADWAA!KADWAA! weergalm dit.   Klein M skreeu soos ‘n maervark en die res van die lammers brabbel uiloog in Babelse tale oor die gruwelike gebeurtenis. Al woord wat juf S kan uitmaak is ‘’planka’’ terwyl die handjies met ontsag wys hoe dik die plank was. Juf S het self haar wind weggeskrik en besluit daar en dan om nooit weer vir Moeder te laat roep nie.

Soms laat ek hulle toe om die maatjie in eie munt terug te betaal soos die boendoehof. Kenners reken egter dis nie opvoedkundig korrek om dit te doen nie.

Regverdigheid speel ‘n groot rol in ‘n kind se lewe. Die onderwyser moet ten alle tye konsekwent optree. Dit is nie altyd so maklik nie.’n Onderwyser kan ‘n kind maak of breek…

‘n Jong man sê hierdie week vir my dat ek ‘n groot invloed op sy lewe gehad het deurdat ek ‘n positiewe opmerking op sy graad een rapport geskryf het. Nou praat ons van seker omtrent 20 jaar gelede. Hierdie woorde het my hart warm laat klop en terselftertyd  ook koue rillings laat kry.

Ons as onderwysers het ‘n baie bepalende rol in die koers wat ‘n kind se lewe inslaan. As elke kind net een onderwyser het wat in hom/ haar glo, kan dit ‘n groot verskil maak…

Deesdae se onnies het dit maar hotagter. Ons word oorweldig met papierwerk, kinders wat nie gereed vir die graad is nie en onmoontlike kurrikulums. Ten minste helfte van die kinders kom uit gebroke huise, ouers wat lang ure werk en en en…  Tog geniet ek my werk ten spyte van alles en sal my skapies vir niks verruil nie.

36 thoughts on “Rakkers en rapporte en radelose herders

  1. Dankie tog ek het nie per groot ongeluk in die onderwys beland nie! Dit sou ‘n onreg aan die kinders van Suid-Afrika gewees het! En dankie vir geroepenes soos jy wat jou skapies vir niks anders sal verruil nie.

    Liked by 1 person

  2. Dis baaaaaie moeiliker deesdae want jy mag mos nie met die liniaal op die hande slaan nie, as ek nou terugdink hoe baie ek detensie toe was of sommer n klap teen die kop gekry het. My kop raas nou mog 😊

    Liked by 1 person

  3. Wat my altyd opgeval het, is die invloed wat ‘n onderwyser selfs op die huislike lewe van die gesin van ‘n leerling kan he. Ek kan jare van louter vreugde – en ook louter gesukkel – onthou wat deur my kinders se onderwysers bepaal is. Geniet die blaaskansie, hoop jy kan bietjie rus!

    Liked by 1 person

  4. 1967
    Juffrou Joe van Jaarsveld gooi Tommy met bordkryt omdat hy rooimiere het ..Hy koes en Soelie wat agter hom oopmond sit en luister het sluk die kryt heel in.

    !986
    Ek sit juffrou vroulief en geselskap hou terwyl sy merk en evalueer. Sy het die middag ‘n brief huis toe gestuur en die ouers bel knaend omdat hulle dit nie behoorlik lees nie, Ek besluit om vermaak te verskaf en antwoord die hoeveelste oproep in my fynste stemmetjie “Dis my pa se huis dis ek wat praat” Stem van juffrou Joe aan die anderkant “Ockert is jy nog steeds so goddeloos?!”

    Gelukkig was ek darem toe te ver vir die bordkryt

    Dankie vir die opvoed en die opvoeter juffrou

    Liked by 2 people

  5. ‘n Goeie onderwyser(es) is definitief goud werd! Ek glo ook hoe ‘moderner’ ons raak, hoe moeiliker raak die ouers … en die bloedjies moet onder ‘Mô’ en ‘Pô’ se partykeer onmoontlike of onrealistiese verwagtings ly. Keep up the good work!

    Liked by 1 person

  6. Was ook ‘n intimidasie tegniek gewees toe ek op skool was. As die klas dol raak, word die regtige kwaai juffrou / meneer geroep. Of bewaar jou siel as jy help om die klas af te breek en een van die ander onnies kom daar ingehol. Gewoonlik is die naaste kind gegryp vir ‘n paar houe. Skuldig of onskuldig. Geen wonder lyfstraf is verbied nie.

    Laat my nou weer aan ‘n geval in my matriekjaar dink. Ons was almal bo-op die tafels om buite te spioeneer. Ons kon duidelik sien as die onderwyser aankom. Toe kom hy van die agterkant af. Natuurlik het hy nie die hele klas op die lab tafels verwag nie, veral nie toe hy ‘n gas by hom gehad het nie. Sy reaksie?

    “Hierdie spul stoutgatte is my matriek klas.”

    Liked by 1 person

      1. Nogal. Hy was die waarnemende skoolhoof op daardie stadium gewees.

        Ons het hom weer eendag vreeslik beindruk toe ons almal 100% in ‘n klastoets gekry het. Dit was eers teen die einde van die klas wat hy heel agter gestaan het en agter gekom het hoekom. Ons het die stuk wat ons moes leer bokant die bord vasgeplak. Hy het maar net kop geskud en dit daar gelos.

        Liked by 1 person

  7. In Sub A het ek ‘n onmenslike juffrou gehad. Een wat veroorsaak het dat ek ‘n jaar teruggehou moes word. En toe kom Juf De Swart. Met haar maroon baadtjie wat by haar maroon rok pas. Sy was lank. Baie lank en het langs die skool in ‘n huis geloseer. Sy was awesome. Sy het my weer soos iets laat voel. Ek dink somtyds daaraan om haar op te spoor. Ek wens net ek kon haar naam onthou!

    Liked by 1 person

  8. Ons praat net nou die dag dat dit werklik ‘n roeping is om ‘n onderwyser(es) te word. Dis nie elke mens wat soveel moeite en liefde aan ander mense se kinders wil/kan spandeer nie. Hoe wens ek nie ons het ook in ‘n eerste wêreld land gebly waar die verhouding van onnie tot kinds soveel kleiner is en onderwysers werklik die geleentheid het om daardie passie uit te leef sonder om uitgeput te raak agv ‘n te groot klas.

    Mag jy die kort vakansie weer jou batterye herlaai en in die nuwe kwartaal voortgaan met die ongelooflike werk.

    Liked by 1 person

  9. O hoe lekker dink ek nou terug aan daardie dae! Dis regtig n werk wat mens moet lief he anders maak jy n gemors van jong lewes. KInders was maar bang vir my in die begin van die jaar maar aan die einde was hul uitermatig lief vir my. As ons gewerk het het ons gewerk en as ons gespeel het het ons alles uitgehaal om dit te geniet.

    Liked by 1 person

Leave a comment